De Doorns: “Marikana het na die plase gekom”

Plaasarbeiders by De Doorns het Maandagmiddag glo ‘n vreedsame optog gehou.

Lybey Swartz, woordvoerder vir die polisie in die Wes-Kaap, het gesê die werknemers het aan die einde van die optog vreedsaam verdaag. Sy sê Tony Ehrenreich, hoof van die vakbondfederasie, Cosatu, het hulle toegespreek. Swartz sie die N1 tussen Worcester en Touwsrivier bly steeds vir verkeer gesluit en ‘n alternatiewe roete deur Ceres word aanbeveel. Swartz kon Maandagmiddag teen 16:30 nog nie bevestig of die pad al oopgemaak is nie.

Werkers in die gebied betoog reeds sedert verlede Maandag oor hul werksomstandighede en daglone. Tydens die staking het hulle die pad blokkeer en sowat 30 hektaar wingerde afgebrand.

Die polisie het Maandag 11 mense in hegtenis geneem nadat ‘n groep van sowat 80 mense, wat met knopkieries en pangas gewapen was, plaaswerkers intimideer en hulle verhoed het om te werk. “Ons het stappe gedoen,” het kol. André Traut gesê. Hy wou nie uitbrei nie.

Par Marran, raadslid van die Breede Vallei-wyk, het gesê die polisie het traangas en rubberkoeëls gevuur en mense se huise betree. Groepe met knopkieries het in die gebied bymekaar gekom en aan die polisie gesê dat hulle die gebied moet verlaat. Marran sê die polisie het hulle toe begin jaag. Die mense het toe klippe op die N1 gegooi en die pad toegemaak.

‘n Vergadering is hierna saam met die polisie belê. Marran sê hy het die vergadering as ‘n gemeenskapsleier bygewoon. “Ek het die polisie oortuig dat ek, as ‘n gemeenskapsleier, die mense kan kalmeer, maar dat die polisie moet onttrek, hul afstand moet hou en nie aksie moet uitlok nie. Dít het hulle toe gedoen,” het hy gesê. “Hierna was die situasie kalm.”

Volgens Marran het verskeie partye en Tina Joemat-Pettersson, minister van landbou, Saterdag vergader. ‘n Ooreenkoms bepaal dat besluite wat tydens die vergadering geneem is, Maandag aan die mense in De Doorns gekommunikeer sou word. Die aksies Maandag het die mense glo egter laat dink dat die polisie poog om hulle te keer. Cosatu in die Wes-Kaap het gesê plaaswerkers in die omgewing sal Dinsdag in eensgesindheid saam met die De Doorns-werkers staak. “Ander plaaswerkers, seisoenwerkers en gemeenskappe sal saam begin staak om op ‘n dagloon van R150 aan te dring,” het Cosatu gesê. “Marikana het na die plase toe gekom,” in verwysing na ‘n uitgerekte staking by die Lonmin platinum-myn in Noordwes. Dié staking het na ander platinum- en goudmyne in die gebied uitgebrei. 34 stakers het op 16 Augustus in dié gewelddadige staking gesterf. Cosatu doen ‘n beroep op werkers in De Doorns, Wellington en “plaasarbeiders landswyd”.

‘n Koalisie deur vakbonde, gemeenskapsorganisasies, NROs en plaaswerkerkomitees is Maandag gesluit wat ‘n veldtog vir beter lone en werkstoestande op plase sal koördineer. Ehrenreich sal dié veldtog bestuur.

Michael Loubser, woordvoerder vir druiweboere in die Hexriviervallei, het gesê permanente werkers het Maandag na die werk toe teruggekeer. Sommige van die werkers het egter weggebly uit vrees vir dit wat kan gebeur indien hulle sou werk toe gaan. “90% van die permanente werkers is terug,” het Loubser gesê.

Die Workers International Vanguard Pary beweer werkers se lae lone is “deur die ANC bepaal om slawerny lone voort te sit”.

Joemat-Pettersson sal Maandag en Dinsdag glo dringende vergaderings belê om die minimum dagloon van R69 vir plaaswerkers te bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.