De Doorns-oproer: Polisie hou situasie dop

Die hoofstraat in Swellendam Donderdagoggend Foto: Dirk Smit Havenga

Polisie monitor nog steeds die gebiede in die Wes-Kaap wat deur betogings geteister is.

“Van die polisie se kant af is alles vandag [Saterdag] rustig,” het lt.kol. André Traut, woordvoerder van die polisie in die Wes-Kaap gesê. Betogers het Vrydag winkels geplunder en besighede in die Hexriviervallei aan die brand gesteek. Paaie in die provinsie, insluitend die N2, is met klippe en brandende motorbande versper.

Die Mawubuye Grondregteforum het Saterdag gesê dat hy die stakende plaaswerkers in hul eise ondersteun. “Hierdie betogings is spontaan en word deur die werkers gereël. Dit is ‘n aanduiding van die armoede waarin plaaswerkers en hul gemeenskappe hulself in begeef.”

Betogings oor lone in die provinsie het tot in die Boland gestrek met tafeldruifplukkers wat ook op ‘n dagloon van R150 aandring. Meeste verdien tussen R69 en R75 per dag. Daar is glo selfs salarisverskille tussen werkers op dieselfde plaas. Vroue kry glo minder as hul manlike eweknieë, alhoewel hulle dieselfde werk doen, het Mawubuye beweer.

Die departement van arbeid het Vrydag met verskeie plaasvakbonde vergader en onderhandelings sal na verwagting Donderdag begin. Die Kommissie vir Versoening, Bemiddelling en Arbitrasie sal die onderhandelings fasiliteer. Die departement het betrokke partye Vrydag versoek om kommentaar te lewer oor ‘n moontlike hersiening van die minimumloon en diensvoorwaardes vir plaaswerkers.

Sowat 300 vermeende plaaswerkers wat in die Wolseley-omgewing begin staak het, was Vrydag weer op hul pos, sê die SA Nasionale Burgerorganisasie (Sanco). Vusi Myeki, uitvoerende hoof van Sanco, het gesê werkers het ingestem om die staking vir ten minste twee weke lank op te skort terwyl hulle vir ‘n besluit oor die minimumloon wag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.