Die N2 was vandag aan beide kante van Swellendam versper deur oproeriges wat ontevrede is daarmee dat die DA die dorpsraad beheer – dit is ʼn voortslepende politieke struweling en die oproeriges is nie hoofsaaklik plaaswerkers nie. Inderdaad – plaaswerkers in die gebied word geïntimideer en boere word verhoed om hul werkers by hul woonplekke te gaan oplaai.
Die N2 se brug oor die Breërivier by Swellendam is die laaste brug oor die rivier voordat dit in die see uitmond. ʼn Paar kilometer stroom-op is daar ʼn brug by Stormsrivier, welke pad dan deur Bonnievale by die R60 aansluit. Die R60 is egter tussen Bonnievale en Swellendam gesluit omdat dit ʼn paar weke gelede verspoel het. Daar is een ander grondpad tussen Bonnievale en Swellendam, maar aangesien Swellendam se hoofstraat deur die loop van die dag onbegaanbaar was, was dit ook nie ʼn vatbare alternatiewe roete nie.
Ander alternatiewe roetes loop agter die Langeberge, soos die R62, maar dit is groot ompaaie, en ook problematies, aangesien daar op plekke soos Robertson en Ashton ook oproer is.
Die enigste alternatief wat oorbly is die grondpad tot by Malgas, waar voertuie dan twee of drie op ʼn slag oor die rivier getrek kan word op die pont. Daar het egter soveel voertuie by Malgas aangekom, insluitend busse en groot vragmotors wat te groot en swaar vir die pont, wat slegs tien ton op ʼn slag kan dra, is, dat daar ʼn reuse verkeersknoop op daardie grondpad ontwikkel het. Die pad tot by die pont is nou en steil, wat dit moeilik maak vir die voertuie om om te draai.
Luister na ʼn gesprek tussen ʼn winkeleienaar op Malgas en die Swellendamse polisie hier: http://audioboo.fm/boos/1060443-malgas-pont-traffic-jam
Die SAPD op Swellendam het ook bevestig dat die N2 oopgemaak is tussen Buffeljagsrivier en Swellendam, maar daar was nog nie bevestiging dat die pad aan die westekant van die dorp weer oopgestel is nie: http://audioboo.fm/boos/1060531-n2-deur-swellendam-oop