De Doorns: “Skiet die goed vrek,” sê polisie glo

Die hoofstraat in Swellendam Donderdagoggend Foto: Dirk Smit Havenga

Michael Daniels, ʼn trekkerbestuurder, het Woensdag in Wolseley geloop om kruideniersware te gaan koop toe hy, vermoedelik deur die polisie in die Wes-Kaap, doodgeskiet is.

Die 28-jarige is in die bors geskiet en ses ander is tydens die plaasarbeiders se betoging in dié Bolandse dorp gewond, berig die Cape Times. Dit is nog nie duidelik of die polisie lewendige ammunisie of rubberkoeëls gebruik het nie.

Daniels se ma, Magdalena, sê haar seun, ʼn pa en enkelbroodwinner, was nie deel van die betogings nie en hy het slegs saam met die betogers in die rigting van die winkel geloop. Deon Conradie, ʼn plaasarbeider, het aan die koerant gesê dat ʼn senior polisiebeampte die bevel gegee het dat beamptes moet skiet. “Sy het gesê ‘skiet die goed vrek’. Ons was gefrustreerd met die polisie en van die betogers het klippe na hulle toe gegooi en hulle gevloek,” het Conradie gesê. Hy sê die skare het begin hardloop toe hulle die skote hoor. “Ek het teruggekyk en Michael op die grond sien lê. Hy was in die bors geskiet. Ek het hom opgetel. Ons het die polisie geroep. Ons het water oor sy gesig gespoel, maar hy wou nie reageer nie.”

Daniels is by die hospitaal in Ceres dood verklaar.

Lt.kol. André Traut sê die polisie se Onafhanklike Klagtedirektoraat (Ipid) sal die voorval ondersoek.

Druiweplukkers in die Hexriviervallei betoog nou reeds langer as ‘n week oor hul lone en dring aan op ‘n dagloon van R150. Arbeiders verdien tans tussen R69 en R75 per dag. Die hoogste en enigste aanbod van die boere tot dusver was R80.

Sestien dorpe in die provinsie was deur die staking geraak. Paaie is versper, motorbande verbrand en eiendom beskadig.

Die departement van arbeid het Woensdag ʼn twee weeklange opskorting vir die staking aangekondig, op voorwaarde dat die sektorbepaling vir landbou deur die Diensvoorwaardeskommissie ondersoek sal word. Die R70-minimumloon vir plaasarbeiders sal dus gekanselleer en weer onderhandel word.

-SAPA

Lees ook:
De Doorns-staking: Boer beseer, paaie gesluit
De Doorns-staking vir eers opgeskort
De Doorns-staking: “Plaasarbeider” sterf, vyf beseer
De Doorns-staking: Boere versper pad na Ceres
De Doorns: Motorbande aan die brand gesteek, paaie versper
De Doorns: Matrieks verhoed om eksamen te skryf
De Doorns: ANC vra boikot van SA wyne
De Doorns-staking brei nou uit na ander dorpe
De Doorns: Polisie ontken hulle het betogers aangeval
De Doorns: Marikana het na die plase toe gekom
11 plaaswerkers van De Doorns in hegtenis geneem
De Doorns-boere vlug van plase

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.