De Doorns-staking: Matrieks verhoed om eksamen te skryf

Tina Joemat-Petterson, minister van landbou, bosbou en visserye, sal na verwagting Woensdag met president Jacob Zuma vergader om sy steun te kry vir hoër lone vir plaaswerkers.

“Plaaswerkers het die minister versoek om in te gryp en met die president te praat,” het Palesa Mokomela, die minister se woordvoerder, gesê. “Sy sal as hul boodskapper optree wanneer sy hopelik vandag die president te sien kry. Sy sal die regering versoek om die lone van plaaswerkers te hersien.”

Mac Maharaj, woordvoerder vir die presidensie, het gesê hy is bewus van die voorgestelde vergadering, maar kan nie kommentaar lewer nie, aangesien dit ʼn interne saak is.

Intussen is leerlinge in die Villiersdorp-omgewing, insluitend matrieks wat met hul eindeksamen besig is, deur stakende plaaswerkers verhoed om skool toe te gaan. Marietjie Freislich, skoolhoof van die Hoërskool De Villiers Graaf, het aan RSG bevestig dat stakers onderwysers intimideer wat leerders met ʼn skoolbus by omliggende plase wil optel. Matrieks wat nie hul eksamen skryf nie, sal dit volgende jaar moet herhaal.

ʼn Skool buite Somerset-Wes is Dinsdag ontruim nadat stakers geboue naby klaskamers aan die brand gesteek het.

Druiweplukkers in die Hexriviervallei in die Wes-Kaap betoog al ʼn week lank oor hul lone, en dring aan op ʼn dagloon van R150. Talle verdien tans tussen R69 en R75 per dag, met R80 as die hoogste en enigste aanbod van boere.

Volgens berigte staak die werkers nou in 16 dorpe. Verskeie werkers is reeds vir openbare geweld in hegtenis geneem.

Joemat-Petterson het Woensdag die departement van landbou versoek om in te gryp. “Ek het geen kapasiteit om die Arbeidskommissie van raad te bedien of te beïnvloed nie,” het sy aan SAfm gesê. “Dit is ʼn saak vir die departement van arbeid of die minister van arbeid. As die departement van landbou het ons nou gedoen wat ons kon om die werkers te ondersteun.”

Volgens Joemat-Petterson het sy gehelp om verhoudings tussen stakende plaaswerkers en boere te “herstel”. “Ek dink ons [die departement] het as ʼn fasiliteerder opgetree om seker te maak dat die onderhandelings op die regte pad bly. Ons kan nie bekostig dat mense in hierdie sektor hul werk verloor nie, daarom het ons besluit om deel te neem om die situasie te normaliseer. Ons doen ʼn beroep op alle werkers om die geweld te staak, om die vandalisme te staak,” het die minister bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Paul ·

Goeie manier om seker te maak dat die kinders oor ‘n paar jaar ook handearbeid moet doen… ai.

Meljean OSENDORP ·

hoe gaan die mense nog deer armoede beinvloed word .wanneer gaan ons mense op n gelyke vlak wees

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.