De Doorns-staking vir eers opgeskort

Betogers in die Wes-Kaap sal glo hul staking oor lone en lewensomstandighede vir twee weke lank opskort, het Angie Motshekga, waarnemende minister vir arbeid, Woensdag gesê.

Motshekga sê die vakbondfederasie Cosatu het met betogers vergader en hulle het ingestem om Donderdag terug te keer werk toe en hulself van geweld en vandalisme te weerhou. Die opskorting is op voorwaarde dat die sektorbepaling vir landbou volgende week Woensdag deur die Diensvoorwaardeskommissie ondersoek sal word. Die R70-minimumloon vir plaasarbeiders sal dus gekanselleer en weer onderhandel word. Motshekga het verslaggewers in Kaapstad, namens Mildred Oliphant, minister van landbou, toegespreek. Oliphant is tans oorsee by ‘n konferensie.

Druiweplukkers in die Hexriviervallei betoog nou reeds langer as ‘n week oor hul lone en dring aan op ‘n dagloon van R150. Arbeiders verdien tans tussen R69 en R75 per dag. Die hoogste en enigste aanbod van die boere tot dusver was R80.

Sestien dorpe in die provinsie was deur die staking geraak.

Tina Joemat-Petterson, minister van landbou, het gesê dit is ‘n diensleweringstaking en bewerings dat die staking polities van aard is, afgemaak. “Dit is nie ‘n politieke saak nie. Dit is ‘n inisiatief deur die werkers. Dit is ‘n diensleweringstaking,” het sy gesê.

Agri SA het egter Woensdag gesê dat dit wel ‘n politieke saak is. “Dit is die ergste geweld wat ons nog ooit gesien het. Dit is definitief polities van aard,” het Cornie Swart, president van Agri SA in die Wes-Kaap gesê. “Mense word deur busse en taxi’s aangery. Dit is nie ‘n staking nie. Dit is ‘n algehele, politiese, opgeblase ding,” het Swart gesê.

Die departement van arbeid het hul simpatie betoon aan die familie van ‘n plaasarbeider wat Woensdagoggend in Wolseley gesterf het. Die polisie in die Wes-Kaap het bevestig dat die man weens aksie deur die polisie gesterf het.

Die SA National Editors’ Forum (Sanef) het gesê twee fotograwe is ook beseer terwyl hulle die betogings gedek het. “’n Rubberkoeël wat die polisie glo gevuur het, het Mandla Mnyakama, ‘n fotograaf van die Daily Sun, Woensdagoggend naby Robertson in die rug getref,” het Mondli Makhanya, voorsitter van Sanef, gesê. Hy het gesê Mnyakama het seergekry, maar hy is meer besorg oor die “behandeling” wat hy van die polisie af ontvang het.

Lulama Zenzile, fotograaf vir Die Burger, is ook in dieselfde betoging beseer, alhoewel hy sowat 18m van die polisie af gestaan het. “Hy is na ‘n kliniek geneem, en nadat X-strale bevestig het dat sy neus nie gebreek is nie, is hy ontslaan,” het Makhanya gesê.

Sanef wag steeds op ‘n reaksie deur die polisie.

Lees ook:
De Doorns-staking: “Plaasarbeider” sterf, vyf beseer
De Doorns-staking: Boere versper pad na Ceres
De Doorns: Motorbande aan die brand gesteek, paaie versper
De Doorns: Matrieks verhoed om eksamen te skryf
De Doorns: ANC vra boikot van SA wyne
De Doorns-staking brei nou uit na ander dorpe
De Doorns: Polisie ontken hulle het betogers aangeval
De Doorns: Marikana het na die plase toe gekom
11 plaaswerkers van De Doorns in hegtenis geneem
De Doorns-boere vlug van plase

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Poepies ·

gaan hulle ooit ophou met die staakings in die land ek glo nie so nie wat gaan met ons kleinkinders word as ons nie meer daar is nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.