Johannes Christiaan de Jager (48) wat daarvan verdink word dat hy twee tienermeisies, Hiltina Alexander (18) van Parow en Charmaine Mare (16) van Mpumalanga, vermoor het, gaan na verwagting Donderdag in Wes-Kaapse hooggeregshof in sy eie verdediging getuig.
De Jager staan tereg op twee aanklagte van moord, twee van verkragting, een van roof met verswarende omstandighede, een van lykskending en ʼn aanklag omdat hy ʼn lyk aan die brand gesteek het. Hy het onskuldig gepleit op al die aanklagte.
Die staat beweer De Jager het Alexander, ʼn sekswerker, op 18 Mei in Parow in 2008 opgelaai, haar verkrag en toe vermoor. Haar liggaam is die volgende dag langs die N7-hoofweg in Philadelphia naby Atlantis gevind. ʼn Nadoodse ondersoek het bevind dat sy verwurg is.
Mare was in Januarie 2013 met vakansie in Kaapstad en het by ʼn vriendin in Kraaifontein gebly. Haar vriendin se ma was in ʼn verhouding met De Jager. Op 7 Januarie het die vriendin, die vriendin se ma en De Jager se seun op ʼn bootreis gegaan. Mare en De Jager het alleen by die huis gebly. Volgens die staat het De Jager herhaaldelik probeer om Mare seksueel aan te rand. Mare het haar glo teen De Jager verset. Toe die gesin op 11 Januarie terugkeer huis toe, het Mare verdwyn. De Jager het haar as vermis aangemeld by die polisie.
Haar liggaam se verkoolde borsgedeelte is in ʼn afgeleë veld in Kraaifontein gevind. Haar arms en bene is afgesny. Haar hande is in ʼn kartonboks in die motorhuis van hul huis weggesteek en haar voete is langs die N2-snelweg naby Firgrove in Somerset-Wes opgespoor.
Lees ook:
De Jager se DNS onder slagoffer se naels
Prostituut- en tienermoord: De Jager erken hy sny tiener op
Prostituut- en tienermoord: Verhoor begin vandag
Prostituut- en tienermoord: Man weer in hof
Man in hof wat Kaapse tiener glo vermoor, in stukke opkap
Soveel wreedheid deur ‘n veronderstel om te wees “mens”. Laat sy kop rol.