De Klerk onthou Thatcher

FW de Klerk Foto: CNN

Voormalige president FW de Klerk is tans in Engeland om Margaret Thatcher se begrafnis by te woon. Hy het met CNN gesels.

“Dit is ‘n geleentheid om na die geskiedenis van ‘n grootse leier te kyk,” het De Klerk aan Becky Anderson, verslaggewer van CNN International, gesê. “Ek dink sy was ‘n baie spesiale Eerste Minister vir Engeland en haar leierskap het talle dele van die wêreld beïnvloed. Dit het definitief ‘n imak op die onlangse geskiedenis van Suid-Afrika gehad.”

Anderson het dit aan De Klerk gestel dat sy nie deur talle Suid-Afrikaners, wat haar as ‘n ondersteuner van apartheid beskou, gemis sal word nie.

“Ek dink dit is onregverdig teenoor haar om te sê dat sy apartheid ondersteun het. Sy was onwrikbaar krities teenoor apartheid, maar sy het ‘n beter begrip as enige van haar tydgenote gehad van die ingewikkelde situasie in Suid-Afrika. Sy het aanvaar dat enige oplossing veiligheid en ‘n geleentheid vir alle Suid-Afrikaners moet bied – witmense ingesluit,” het De Klerk bygevoeg. “Sy het besef dat, indien ons wil voortbeweeg, ons ‘n nuwe grondwetlike bedeling moet onderhandel.”

De Klerk sê sy eerste ontmoeting met Thatcher was net nadat hy as president verkies is en hy sy visie in Londen in 10 Downing Street met haar bespreek het. “Mense het my voor die tyd gewaarsku ek moet ‘n lesing verwag. Maar sy het nie vir my ‘n lesing gegee nie. Sy het aandagtig geluister en deurdagte vrae gevra. Aan die einde van ons gesprek het sy gesê, ‘as jy doen wat jy nou net vir my gesê het, dan sal ek jou ondersteun’.”

Volgens De Klerk het Thatcher selfs nog voordat hy as president verkies is, daarop aangedring dat die ANC-leierskap vrygelaat moet word. Sy het geglo hulle moet deel wees van enige toekomstige onderhandelinge.

Anderson wou verder by De Klerk weet of hy ooit gehoor het dat Thatcher na Mandela of die ANC as terroriste verwys het of hulle só genoem het. “Nee. Nie een keer in my teenwoordigheid nie, en dit is teenstrydig om hom ʼn terroris te noem en in dieselfde asem te versoek dat hy vrygelaat moet word,” het hy geantwoord. “Al wat ek daarvan weet is Lord Robin Renwick se bewering dat sy na die ANC as ʼn terroriste-organisasie verwys het toe hulle gedreig het om Britse belange in Suid-Afrika te teiken weens haar standpunt om nie verdere sanksies teen Suid-Afrika toe te pas nie.”

Anderson het vir De Klerk gevra of hy bewus is daarvan dat die ANC Margaret Thatcher se afsterwe gevier het. “Ek dink nie dit is noodwendig die ANC nie,” het hy gesê. Die amptelike verklaring wat deur die ANC uitgereik is, is ʼn gebalanseerde verklaring. Hulle stel dat hulle in die verlede grootliks van Thatcher verskil het, maar dat sy, in eie reg, ʼn grootse leier was. Daar is elemente in die ANC wat hulleself skuldig maak aan onbetaamlike gedrag en ek veroordeel dit. Ek dink dit is in swak smaak, om die minste te sê.”

Thatcher word Woensdag in die St Paul-katedraal ter ruste gelê ná ‘n beroerte haar lewe geëis het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.