Voormalige president FW de Klerk is Woensdagoggend uit die hospitaal ontslaan nadat hy ʼn pasaangeër ontvang het.
“Die operasie was ʼn sukses,” het Dave Steward, uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting, gesê. “Hy is reeds tuis.”
Volgens Steward sal De Klerk (77) na verwagting voor die einde van die week weer op kantoor wees. “Die stigting bedank Suid-Afrikaners vir hul goeie wense en boodskappe van ondersteuning. Die familie is dankbaar vir die uitstekende mediese span by die Panorama-hospitaal in Kaapstad,” het hy gesê.
De Klerk het laas in Junie 2006 ʼn operasie ondergaan toe twee kwaadaardige nodes van sy kolon verwyder is. Hy het kort ná die operasie longontsteking opgedoen, maar het ten volle herstel.