De Lille-saak van hofrol geskrap

Patricia De Lille. Foto: www.capetown.gov.za

ʼn Saak van roekelose en nalatige bestuur teen Patricia de Lille, die burgemeester van Kaapstad, se man is Woensdag in die Goodwood-landdroshof van die rol geskrap.

Edwin de Lille is Vrydag in Pinelands in hegtenis geneem vir beweerde roekelose en nalatige bestuur. De Lille het toe aan die media gesê dat haar man ʼn beroerte gehad het en dat metrobeamptes ʼn ambulans ontbied het nadat hulle hom in hegtenis geneem het.

Die Cape Argus het Donderdag berig dat Edwin de Lille (64) in die hof moes verskyn, maar ʼn siekbrief verskaf het wat sy afwesigheid verduidelik het. Volgens die siekbrief, wat deur dr Rafiq Abbas van die Grassy Park mediese sentrum uitgemaak is, het Edwin op 11 Oktober ʼn beroerte gehad en ly hy ook aan hipertensie en diabetes. “Vrydag was hy gedisoriënteerd en verward, wat aandui dat hy weer ‘n beroerte kon gehad het,” het dr Abbas gesê.

Landdros Sean Lea het gesê die staat sal weer ʼn dagvaardiging aan Edwin moet uitreik omdat hy nie tevrede is dat Edwin behoorlik gedagvaar is nie.

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae