De Villiers meen die Bokskrum sal staan

André Watson, bestuurder van skeidsregtersake by SA Rugby, sê die reëls rondom die skrum bly dieselfde, dis net die roepreël wat verander.

“Wat in die volksmond as die nuwe skrumreël bekend staan, is eintlik verkeerd. Die reëls bly dieselfde. Dis die roepreël wat verander,” het Watson aan Pale Toe! by een van die geleenthede waartydens hy die “roepreël” verduidelik het, gesê.

Hierdie “roepreël” is die afgelope naweek in die Curriebekerwedstryde toegepas – blykbaar met groot sukses as jy die kommentaar ontleed.

Eerskomende naweek sal die toepassing van die reël in die Castle Kampioenskapsreeks inslag vind. Volgens die Springbokke se nie-amptelike skrumafrigter sedert 2012, Pieter de Villiers, sal die reël, net soos in die Curriebekerreeks, die frustrasies van afrigters, ondersteuners en skeidsregters verminder.

De Villiers, ‘n internasionale voorryman, meen dat daar beter kompetisie in die skrums sal wees omdat die inslaan nie meer deel van die roep is nie. Dit is nou net krag en tegniek wat bepaal wie die oorhand kry. De Vlliers meen stutte se krag gaan getap word. Daar sal derhalwe gouer op plaasvervangers staatgemaak word, wat op sy beurt die rotasiestelsel soveel belangriker maak.

Volgens De Villiers is daar ses voorrye van gehalte nodig in elke wedstryd en het Suid Afrika die regte kombinasies daarvoor.

Beast Mtwarira, Adriaan Strauss en Jannie du Plessis sal in die opdrafspan wees en later gevolg word deur Gurthrö Steenkamp, Bismarck du Plessis en Coenie Oosthuizen.

De Villiers het op die vooraand van die openingswedstryd in die Castle Kampioenskapsreeks aan joernaliste by die Springbokke se mediavergadering in Johannesburg gesê daar was kommer oor Jannie en Beast se fiksheid, maar dat hulle goed geoefen het. Die feit dat die groep byna twee weke bymekaar is, maak ook ‘n groot verskil in die werktempo en die gees van die span, het hy gesê.

Suid-Afrika speel Saterdag teen Argentinië in die eerste wedstryd van die Kampioenskapsreeks (voorheen bekend as die Drienasiesreeks) in die FNB-stadion in Soweto.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.