Delmas-moorde: Twee in hof

Wiehan Botes. Foto: Facebook

Twee mans sal na verwagting vandag in die Delmas landdroshof verskyn in verband met die moord op die vyf maande oue Wiehan Botes en sy dagmoeder Magrietha de Goede (66).

Enock Mbele (47) en Lazarus Mabena (54) is borgtog geweier tydens hul vorige hofverskyning op 31 Mei. Die saak is uitgestel vir verdere ondersoek. Mbele en Mabena is op 29 Mei in hegtenis geneem, sowat ʼn week na die moord op Botes en De Goede. Geroofde goedere, waaronder twee selfone, is glo in hul besit gevind. Die twee verdagtes bly in Daveyton, net meer as 30 km van Delmas, waar die moord plaasgevind het. Die polisie soek in tussen steeds na De Goede se tuinier, Themba Ephraim Mahlangu (29), wat moontlik kan help met die ondersoek.

Intussen gaan talle bekendes op 19 Junie ʼn optog in Pretoria se strate lei om teen misdaad te betoog. “Tot watter vlak het die land gedaal dat babas nou vermoor word?” het Ronel Brink, wat die optog organiseerder, gevra. Sy het gesê almal sit in hul huise, hoor van die gru-misdade en raak woedend, maar doen niks daaraan nie. “Dit is tyd dat ons ons stemme dik maak. Ons het genoeg gehad.” Wihan se ouers, Wiets en Rita, gaan by die optog aansluit. “Dan stap Bobby van Jaarsveld, Karlien van Jaarsveld, Steve Hofmeyr, Gerrie Pretorius, Flooze (Sorina), Izak Davel, Derick Hougaard, Arno Jordaan, Corlea Botha, Dozi en nog baie ander bekendes ook saam die dag,” het Brink gesê. Die optog begin om 10:00 by die Pretoria-kunsmuseum en gaan tot by die Uniegebou beweeg waar ʼn memorandum aan president Jacob Zuma en Jeff Radebe, minister van justisie, oorhandig gaan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.