Departement erken Afrikaans as Afrikataal

Die burgerregte organisasie AfriForum Vrydag gesê hy neem met waardering kennis van die departement van basiese onderwys se standpunt dat Afrikaans ’n Afrikataal is.

“Tydens ʼn vergadering van die portefeuljekomitees van basiese onderwys en hoër onderwys en opleiding, is konsepwetgewing bespreek wat van leerders sal vereis om drie, in plaas van twee amptelike tale op skool te leer,” het Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, gesê. “Die wetgewing mag dalk reeds in 2014 geïmplementeer word.” Daar word nou voorgestel dat ʼn Afrikataal, wat Afrikaans insluit, reeds op die vlakke van Grade R en 1 aangebied moet word. Tevore is Afrikaans nie onder Afrikatale ingesluit nie.

Volgens Bailey is dit verblydend dat Afrikaans uiteindelik die erkenning geniet wat dit verdien. Volgens die syfers van die nasionale sensus van 2011 is Afrikaans die derde grootste taal in Suid-Afrika, wat deur 13,5% van die land se inwoners uit alle gemeenskappe gepraat word. Dit is een van slegs vier tale wat in die twintigste eeu tot hoëfunksievlak ontwikkel het. “As kulturele skat kan alle Suid-Afrikaners daarop trots wees en die aanleer daarvan op skoolvlak kan kinders van ander taalgemeenskappe help bemagtig. Die groei van Afrikaans tot hoëfunksievlak kan ook vir die ander nege Afrikatale tot voorbeeld dien oor hoe dieselfde doelstelling bereik kan word.”

AfriForum verwelkom ook die feit dat Suid-Afrikaanse kinders toegang tot die aanleer van meer tale op skoolvlak sal hê. “As die regering egter ernstig is om van die verhaal ʼn sukses te maak, sal dit moet sorg dat meer onderwysers opgelei word om die tale te onderrig; op naskoolse vlak sal meertalige instellings erkenning en bykomende befondsing moet ontvang (wat tans nie die geval is nie); en leerders sal ook ekonomiese waarde moet vind in die aanleer van meer Suid-Afrikaanse landstale,” het Bailey bygevoeg. “Terwyl die staatsdiens en die res van die openbare sektor toenemend verengels, en die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale, Wet 12 van 2012, te gebrekkig is om die gebruik van enige taal na behore te bevorder of te beskerm, sal dit nie veel sin hê om Afrikatale aan te leer nie. Leerders moet weet die addisionele tale wat hulle leer, gaan hulle in die praktyk ook help om hulle loopbane te bevorder.”

Die publiek sal na verwagting binne ʼn maand gevra word om kommentaar op die konsepwetgewing oor die aanleer van Afrikatale te lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.