Departement ontken media was verbied by Malema-saak

Veiligheidswagte by die deur het glo die media verbied om in die hof in te gaan. Foto: Werner Beukes/SAPA

Veiligheidswagte by die deur het glo die media verbied om in die hof in te gaan. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die departement van justisie het Woensdag gerugte ontken dat joernaliste by die Vanderbijlpark-landdroshof, waar Julius Malema verskyn het, verbied is.

“Volgens ons beamptes is geen verslaggewer verbied om dekking te gee aan die hofsaak nie,” het Mthunzi Mhaga, woordvoerder van die departement, aan Sapa gesê. “Die landdros het egter geen kameras toegelaat nie.”

Sekuriteitswagte by die deur het aan die media gesê hulle het opdrag ontvang om geen verslaggewers in die hof toe te laat nie.

Die polisie het Malema deur ʼn agterhek begelei. Die saak is tot 28 Februarie uitgestel. Malema het verskyn op aanklag van roekelose of nalatige bestuur en dat hy teen 215 km/h in ʼn 120km/h-sone gery het.

Volgens landdros Robson Mpela is joernaliste, wat nie vooraf toestemming bekom het om die hofverrigtinge by te woon nie, verbied. “Elke keer wat die media enige saak wil dek moet hulle ʼn aansoek indien en die meriete daarvan sal bepaal word en ʼn besluit sal geneem word,” het Mpela gesê.

Mhaga het gesê die departement beskou die media as ʼn kritieke rolspeler in die stryd teen misdaad en dit sal kommerwekkend wees as hulle toegang tot hofverrigtinge verbied word.

ʼn Joernalis van Sapa is glo Dinsdag by die Ntuzuma-landdroshof naby Durban aangesê dat hy nie sonder vooraf skriftelike toestemming die hofverrigtinge met sy skootrekenaar mag bywoon om aantekeninge te maak nie. Die joernalis het geëis dat hy in hegtenis geneem sal word as hy verhoed gaan word om die saak by te woon en aantekeninge te maak. Ná ʼn gesprek met drie senior beamptes, wat in kennis gestel is van die reg van die media om hofverrigtinge by te woon, is hy toestemming verleen om aantekeninge te maak. Die verslaggewer is aangesê dat daar nie ʼn vereiste sal wees om toestemming te bekom nie. -SAPA

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.