Departement sê hoeveel kinders per skool

skool 2Die grondwethof in Johannesburg het verlede week beslis dat die departement van onderwys die finale sê het oor die hoeveelheid kinders wat in ʼn openbare skool toegelaat moet word, ongeag die getalle wat deur die skool se eie beheerliggaam vasgestel is.

Dié uitspraak volg na ʼn regsgeding tussen die Gautengse departement van onderwys en die Laerskool Rivonia in Sandton, toe die laerskool in 2011 geweier het om ‘n graad 1-leerling in die skool toe te laat. Die leerling is toelating geweier omdat die skool reeds vol was volgens die getalle wat deur die skool se beheerliggaam vasgestel is. Die departement het daarna ingetree en die skool se beheerliggaam aangesê om die leerder toe te laat. Die hof is toe genader om te bepaal wie grondwetlik die finale sê het in die toelating van leerlinge en die kapasiteit van skole.

“Hierdie was ʼn waterskeidingsaak wat ernstige implikasies vir openbare skole inhou,” het ʼn onderwyskenner, wat op dié skool se beheerraad dien, maar anoniem wou bly, Woensdag aan Maroela Media gesê. “Dit het ʼn grondwetlike invloed op die Skolewet wat alle openbare skole oor ʼn breë spektrum raak; die voorval by Laerskool Rivonia is nie ʼn geïsoleerde geval nie. Dit kan lei tot ’n moontlike uittog uit openbare skole met gehalte-onderrig as amptenare hul mag gaan misbruik om skole te dwing om meer leerlinge in te neem as waarvoor daar werklik kapasiteit is.”

Intussen het Equal Education (EE) vandeesweek die uitspraak verwelkom. Die EE voer aan daar behoort ‘n toepaslike balans te wees tussen provinsiale departemente en skole se beheerliggame in die bepaling van die kapasiteit van ʼn skool.

“Die grondwetlike hof het reg opgetree deur te beslis dat die mag nie by ʼn skool lê nie, maar by die departement. Beheerliggame se beleide is nie ongebonde nie en hulle moet ook die verantwoording deel en besef dat alle leerlinge die reg het tot gelyke onderwys,” het die EE gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.