Departement van Minerale Hulpbronne staan platinummynregte in noorde van Pretoria toe

Argieffoto

Argieffoto

AfriForum is verstom deur die aankondiging dat die departement van minerale hulpbronne (DMR) prospekteerregte toegestaan het vir die beoogde mynontwikkeling net noord van die N4, in die omgewing van Doornpoort, in die noorde van Pretoria. Die regte is toegestaan en afgeteken deur die adjunk-direkteur-generaal van mineraleregulering, die hoofdirekteur van mineraleregulering en administrasie, die streeksbestuurder van mineraleregulering en die waarnemende adjunkdirekteur van mineralereg.

“Die DMR het die regte toegestaan en aangedui dat daar geen openbare beswaar teen die beoogde ontwikkeling deur Gemsbok Platinum (Edms) Bpk is nie. Dit is nie waar nie. Verskeie belanghebbendes het besware teen die projek geopper. Dit sluit in AfriForum, die Doornpoort-inwonersvereniging, die Wonderboom Lughawe en die Tshwane-metroraad,” het Julius Kleynhans, hoof van omgewingsake by AfriForum gesê.

“Meer as 3000 mense in die omgewing het teen die toekenning van die regte beswaar gemaak. Dit skep groot kommer met betrekking tot die staat se bestuur van mynwese in Suid-Afrika,” het Kleynhans bygevoeg.

Ingevolge artikel 10(2) van die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne moet die streeksbestuurder enige beswaar ten opsigte van die toestaan van prospekteerregte, mynregte of ʼn mynpermit verwys na die streekskomitee vir mynontwikkeling en die omgewing, vir oorweging van die besware en om die minister daaroor te adviseer. Ingevolge die Wet mag die streeksbestuurder nie na sy eie diskresie handel nie; hy moet die besware verwys,” het Kleynhans gesê.

AfriForum is bekommerd oor mynbedrywighede in hierdie gebied. “Mynbou hou ʼn bedreiging in vir grondwater, padinfrastruktuur en geraas, wat ʼn nadelige uitwerking op die plaaslike gemeenskap en die omgewing sal inhou,” het Kleynhans gesê.

“Ons staan nie mynontwikkeling teen nie, maar ons is gekant teen ontwikkeling wat in ekologies sensitiewe gebiede en vleilande plaasvind en wat ‘n nadelige uitwerking op menslike en omgewingsgesondheid sal hê.”

AfriForum sal die beoogde projek voordurend monitor. Sluit aan by jou plaaslike AfriForum-tak. SMS jou dorp se naam na 31336 (50c/SMS).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Rondom Lelik ·

Hulle het reeds alles bogrond opgeneuk nou wil hulle alles nog ondergrond ook opneuk soos die Fraking in die Karoo ook.

andre' ·

Die ANC het met buitelandse hulp en druk in beheer van die land se administrasie gekom! Hulle spog gedurig met wat hulle doen en bereik het ! Die ANC en hul kommunistiese bondgenote sal
egter nie onthou word vir hul diefstel. korrupsie en nepotisme nie maar vir dat hulle toegelaat het
dat die omgewing en natuurlikke hulpbronne van Suid-Afrika VERNIETIGING word!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.