Derby-Lewis doen weer aansoek om parool

Clive Derby-Lewis (76), wat lewenslank tronkstraf uitdien vir sy aandeel in die moord op die destydse SAKP-leier, Chris Hani, gaan om mediese parool aansoek doen.

Volgens Marius Coertze, Derby-Lewis se regsverteenwoordiger, gaan sy vrou Gaye, dit op haar eie doen as familielid. Hy is verlede jaar normale parool geweier, hoewel die departement van korrektiewe dienste dit ondersteun het.

“Ons het gedurende Julie 2011 mondelings verneem dat Derby-Lewis se parool geweier is deur die minister van korrektiewe dienste,” het Coertze aan Maroela Media gesê.

“Ons het egter nooit skriftelike besluit daaroor ontvang nie. Dis sommer deur ‘n beampte aan Derby-Lewis meegedeel en ‘n brief tot die effek is aan hom getoon, maar geen afskrif of formele skriftelike bevestiging is ooit aan Derby-Lewis of aan ons gemaak nie.”

Coertze sê hulle het daarna skriftelik navraag gedoen vir die redes waarom die minister sy parool geweier het. Ná twee maande het hulle steeds geen terugvoer ontvang nie. Dit is eers nadat hulle die hulp van die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, ingeroep het om ‘n klagte teen die minister in te dien, dat hulle binne 10 dae antwoorde gekry het.

“Die redes wat aangevoer is, was irrelevant tot oorweging vir parool en dus ongeldig. Ons het daarna die hooggeregshof in Pretoria gevra om die Minister se besluit te hersien. Daardie saak is nou hangende en sal waarskynlik teen November vanjaar aangehoor word,” het Coertze bygevoeg.

Coertze en Gaye het op 3 Augustus gekonsulteer. “Sy wil nou aansoek doen vir mediese parool vir Derby-Lewis, nog voordat die hersieningsaak afgehandel is. Sy het besluit om dit op haar eie te doen as familielid, soos in  Jackie Selebi se geval. Sy het reeds begin om die mediese verslae van die drie dokters wat hom behandel het te verkry en sal na verwagting teen die einde van Augustus gereed wees om haar aansoek vir Derby-Lewis se mediese parool in te dien. Die twee sake sal dus gelyklopend wees,” het Coertze gesê.

Derby-Lewis ontvang behandeling vir verskeie kwale soos velkanker, hoë bloeddruk en prostaatkanker. “Hoewel hy bestraling vir die prostaatkanker ontvang het, is dit nie genees nie en is hy slegs in remissie. Weens sy ouderdom is hy verswak en is sy algemene gesondheidstoestand nie goed nie. Sodra al die mediese verslae bekom is, sal Derby-Lewis se aansoek vir mediese parool ingedien word.”

 

Dit sal ongeveer drie maande duur om die uitslag te kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.