Derby-Lewis gaan hof nader na parool afgekeur is

Clive Derby-Lewis se regsverteenwoordiger het bevestig dat die minister van korrektiewe dienste sy aansoek om parool geweier het.

Marius Coertze het bevestig dat minister Nosiviwe Mapisa-Nqakula sy aansoek geweier het. Derby-Lewis dien lewenslank tronkstraf uit vir die moord op die SAKP se hoofsekretaris Chris Hani in 1993. Volgens berigte is Derby-Lewis sê aansoek geweier omdat Hani se familie nie geraadpleeg is voor die voorstel vir parool gemaak is nie. Coertze het aan Maroela Media gesê Derby-Lewis is reeds einde verlede maand deur ‘n beampte van korrektiewe dienste gewittig dat sy parool afgekeur is. Coertze sê daar is ‘n brief aan Derby-Lewis gegee waarin die minister glo sê hy sal weer in Maart 2013 kan aansoek doen om parool. Daar is egter geen redes aangevoer oor hoekom sy parool geweier is nie. Coertze sê intussen dat Derby-Lewis nou ook kanker in sy been het en ligte hartversaking het. Derby-Lewis is vroeër die jaar vir agressiewe vel- en prostaatkanker behandel. Coertze sê hulle sal volgende week ‘n aansoek by die hooggeregshof in Pretoria indien waar hulle sal vra dat die hof die minister se besluit moet heroorweeg. Hy sê intussen Derby-Lewis sal weer volgende week in die hospitaal opgeneem word vir behandeling. Derby-Lewis aansoek om parool word dikwels vergelyk met die van die veroordeelde bedrieër Schabir Shaik wat op parool vrygelaat is op gronde dat hy terminaal siek is. Derby-Lewis is aanvanklik die doodstraf opgelê vir sy aandeel in die moord op Hani. Sy vonnis is egter tot lewenslank tronkstraf verander nadat die doodstraf afgeskaf is. Die departement van korrektiewe dienste se woordvoerder was nie onmiddellik beskikbaar vir kommentaar nie. Derby-Lewis is een van meer as 300 gevangenes wat lewenslange vonnisse uitdien wat voor Maart 1994 tronk toe is. Die Konstitusionele Hof het vroeër die jaar beslis dat dié gevangenes vir parool oorweeg moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.