Derby-Lewis “moet in die tronk vrot”

Clive Derby-Lewis (76), wat lewenslank tronkstraf uitdien vir sy aandeel in die moord op die destydse SAKP-leier Chris Hani, “moet in die tronk vrot” het die Liga van Jong Kommuniste (YCL) gesê.

“Die afskuwelike man is steeds ‘n simbool van die wreedheid van apartheid en sy onderduimse komplot om verdere onstabiliteit te bring en die feit dat hy nie berou toon nie bly ons hoofargument oor hoekom hy in die tronk moet vrot,” het die jeugliga se nasionale woordvoerder, Mangaliso Stalin Khonza, gesê. Khonza sê Derby-Lewis se aansoek om mediese parool moet geweier word oor die boosheid wat hy steeds verteenwoordig.

Maroela Media het gister berig dat Derby-Lewis (76) om mediese parool gaan aansoek doen. Volgens Marius Coertze, Derby-Lewis se regsverteenwoordiger, gaan sy vrou Gaye, dit op haar eie doen as familielid. Hy is verlede jaar normale parool geweier, hoewel die departement van korrektiewe dienste dit ondersteun het. Coertze en Gaye het op 3 Augustus gekonsulteer. “Sy wil nou aansoek doen vir mediese parool vir Derby-Lewis, nog voordat die hersieningsaak afgehandel is. Sy het besluit om dit op haar eie te doen as familielid, soos in Jackie Selebi se geval. Sy het reeds begin om die mediese verslae van die drie dokters wat hom behandel het te verkry en sal na verwagting teen die einde van Augustus gereed wees om haar aansoek vir Derby-Lewis se mediese parool in te dien. Die twee sake sal dus gelyklopend wees,” het Coertze gesê. Derby-Lewis ontvang behandeling vir verskeie kwale soos velkanker, hoë bloeddruk en prostaatkanker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.