Derby-Lewis wil glo jammer sê

Clive Derby-Lewis (77), wat lewenslange tronkstraf uitdien vir sy aandeel in die moord op die destydse SAKP-leier Chris Hani, wil glo om verskoning vra vir sy rol in die sluipmoord.

Marius Coertze, Derby-Lewis se regsverteenwoordiger, het glo aan The New Age gesê dat Derby-Lewis met Hani se weduwee Limpho wil ontmoet. “Hy is baie jammer oor die hele ding,” het Coertze gesê. Volgens die berig is Limpho glo huiwerig om met Derby-Lewis te ontmoet en het sy vir privaatheid gevra terwyl die familie voorberei vir die 20 jaar herdenking van Hani se dood. Maselela Maleka, woordvoerder van die SAKP, sê Derby-Lewis moet meer inligting oor die sluipmoord bekend maak. “Dis die rede hoekom hulle amnestie geweier is. Hulle het nie die waarheid gepraat nie.”

eNews Channel Africa (eNCA) het Sondag berig dat die departement van korrektiewe dienste (DKD) se mediese adviesraad besluit het om nie toestemming te gee vir Derby-Lewis se vrylating op mediese parool nie. James Smalberger, adjunk-hoofkommissaris van die DKD, het aan eNCA gesê dat Derby-Lewis van die raad se besluit ingelig is. Derby-Lewis se vrou Gaye het in Augustus verlede jaar namens haar man om mediese parool aansoek gedoen. Hy is in 2011 normale parool geweier. Derby-Lewis ontvang behandeling vir verskeie kwale soos velkanker, hoë bloeddruk en prostaatkanker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.