Dettol en Domestos: Meer inligting oor produkte wat herroep word

Dettol-ontsmettingsmiddel wat van die Verenigde Koninkryk af ingevoer is, word landswyd herroep omdat dit glo ʼn gesondheidsrisiko kan inhou, het die Nasionale Reguleerder vir Verpligte Spesifikasies (NRCS) Dinsdag gesê.

“Dit voldoen nie aan ons vereistes nie, en ons doen ʼn beroep op die publiek om nie van die produk gebruik te maak nie,” het Thomas Madzivhe, algemene bestuurder van die NRCS, gesê. “In gevalle waar die gesondheid en veiligheid van verbruikers moontlik geraak is, reik ons ʼn verbruikerswaarskuwing uit om te sê dat die produk herroep word en dat ons aanraai dat verbruikers dit nie gebruik nie.”

“Ons reik ʼn spesifieke getal aan enige produk uit om aan te dui dat dit aan ons standaard voldoen en veilig is om te gebruik. Hierdie produk het nie aan dié standaard voldoen nie.”

Madzivhe sê die reguleerder kon nie bepaal of die ontsmettingsmiddel voldoen het aan veiligheidstandaarde nie. “Ons het toetse gedoen wat aangedui het dat die produk nie daaraan voldoen nie.”

“Enige produk wat nie deur ons geregistreer is nie, kan nie verkoop word nie. Dit moet nêrens beskikbaar wees nie.” Hy sê bottels van die produk kan moontlik steeds in afgeleë gebiede opgespoor word, ondanks die feit dat die produk herroep is. Hy doen egter ʼn beroep op die publiek om nie die produk te koop nie.

Madzivhe sê die reguleerder het ook bevind dat Domestos Extended Germ-Kill van die rakke verwyder moet word, aangesien dit nie aan die administratiewe goedkeuringsprosesse voldoen het nie. “Dis moontlik dat Domestos nie ʼn gesondheids- of veiligheidsrisiko inhou nie, maar aangesien dit nie ʼn goedkeuring van ons af ontvang het nie, kan dit nie verkoop word nie.”

Volgens Madzivhe spreek hulle die saak intern aan. “Hulle moet die prosesse volg, die produk registreer, die heffings betaal en dan die produk verkoop,” het hy gesê.

Domestos Thick Bleach en ander produkte in die Dettol-reeks, insluitend Dettol Hygiene Liquid en Dettol Antiseptic Liquid word nie hierdeur geraak nie.

Die NRCS is ʼn agentskap van die departement van handel en nywerheid wat opgerig is om na verpligte spesifikasies en ander tegniese regulasies om te sien. In gevalle waar produkte nie aan die minimum spesifikasies voldoen nie, word sanksies toegepas, insluitend die opskorting van verkope van die produk, beslaglegging op die produk en selfs vernietiging van produkte wat nie aan die prosesse voldoen nie. Oortreders kan ook vervolg word.

Bongani Khanyile, hoof uitvoerende beampte van NRCS, doen ʼn beroep op die publiek om die reguleerder in kennis te stel van enige winkels wat steeds Dettol Disinfectant Liquid en Domestos Extended Germ Kill verkoop.

Lees ook:
Dettol word glo herroep
Kommer oor Dettol en Domestos

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.