Leerlinge van ʼn skool in KwaZulu-Natal moet daagliks hul skoene en soms skooluniforms uittrek om deur ʼn rivier te loop om by die skool uit te kom.
The Witness berig die leerlinge van die Ekhamanzi CP-skool naby Greytown moet die rivier oorsteek, aangesien daar nie ʼn brug is nie. Die koerant berig tussen 200 en 500 kinders moet daagliks die rivier oorsteek. ʼn Leerling beweer dat hul skoene en klere soms boonop deur die rivier weggespoel word. Die water het glo selfs al van die kinders meegesleur.
Senzo Mchunu, LUR vir onderwys, sê verskeie skole in die provinsie het dieselfde probleem. “Ons sal met die departement van vervoer onderhandel om ʼn oplossing te vind,” het Mchunu gesê.
– Sapa