Dewani-moord: twee verdagtes in die hof

Shrien en Anni Dewani

Twee van die mans wat daarvan aangekla word dat hulle Anni Dewani tydens haar wittebrood vermoor het, beplan om onskuldig te pleit.

Xolile Mngeni en Mziwamadoda Qwabe het Vrydagoggend in die hof verskyn. Regter André le Grange het sy verligting uitgespreek dat die voorverhoor aangeleenthede nou afgehandel is, aangesien dit reeds ʼn hele paar keer sedert April uitgestel is. “Die saak is nou gereed om op 30 Julie ʼn aanvangs te neem,” het hy gesê.

Mngeni en Qwabe het Vrydagoggend kalm voorgekom. Mngeni is verlede jaar met ʼn kwaadaardige breingewas diagnoseer, maar hy was gesond genoeg om voor die regter te staan en hy het nie, soos die vorige kere, gebewe nie. Sy prokureur, Matthews Dayimani het aan die hof gesê dat hy ʼn nuwe verslag rakende sy kliënt se mediese toestand teen volgende week Vrydag sal kan indien ná nuwe breinskanderings gedoen is.

Shrien Dewani, Anni se eggenoot, is moontlik die derde aangeklaagde in die hofsaak en die staat het onlangs te kenne gegee dat hulle hom eers as ʼn aangeklaagde in die saak sal byvoeg sodra hy geestelik geskik is.

Anni (28) is in November 2010 tydens haar wittebrood in Kaapstad doodgeskiet.

Die Britse hooggeregshof het in September 2011 Dewani se uitlewering na Suid-Afrika weens Dewani se geestelike ongesteldheid opgeskort. Dewani is tans in ʼn hospitaal in Bristol in die weste van Engeland.

Mngeni en Qwabe word aangekla van ontvoering, roof met verswarende omstandighede, moord, en twee klagtes wat verband hou met die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie. Hulle is steeds in aanhouding.

Zola Tonga, die vierde persoon wat in verband met die voorval aangekla is, is vroeër vervolgens ʼn pleitooreenkoms tot 18 jaar tronkstraf gevonnis. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.