‘Dewani-moordverdagte kan nie verhoor word’

Shrien en Anni Dewani

Xolile Mngeni, wat aangekla word van die moord op Anni Dewani, is nie geskik om verhoor te word nadat ʼn breingewas by hom gediagnoseer is, het sy regsverteenwoordiger gesê.

Mgeni sê regsverteenwoordiger, Matthews Dayimani, het Vrydag in die Wes-Kaapse hooggeregshof aangevoer dat sy kliënt vir waarneming gestuur moet word ingevolge die Strafproseswet ten einde te bepaal of hy die hofverrigtinge kan verstaan. Dayimani het aan regter Robert Henney gesê dat ʼn onkoloog gewaarsku het dat Mngeni glad nie in die hof moet verskyn nie. “Sy immuunstelsel is baie laag en hy mag nie buite of uit die hospitaal wees nie aangesien hy infeksie kan kry.” Mngeni kry glo ook aanvalle wat gepaard gaan met hoofpyn, dubbelvisie en erge uitputting. Henney het aan Dayimani gevra of daar enige verslae is in die verband. Damiyani sê dit is moeilik om iemand te reël om sy kliënt in die tronk te besoek en dat dit ook baie duur is. Henney het verwys na Mngeni se vorige mediese verslag wat sê dat hoewel hy hoofpyn kry, hy georiënteerd is en die hofverrigtinge kan bywoon en verstaan. Henney het aan Dayimani gesê hy moet ʼn inhoudelike aansoek bring. Damiyani is aangesê om regterpresident John Hlophe met die aansoek te nader en op 11 Mei terugvoering te gee wanneer die voorverhoor begin.

Mngeni en sy medebeskuldigde, Mziwamadoda Qwabe, word aangekla van moord, ontvoering, roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie. Die saak is tot aanstaande maand uitgestel aangesien Qwabe nie langer sy regsverteenwoordiger kan bekostig nie en om regshulp moet aansoek doen. Die verhoor sal op 30 Julie begin. Anni is in November 2010 in Kaapstad doodgeskiet nadat sy en haar man glo tydens hulle wittebrood gekaap is. Suid-Afrika probeer intussen om Shrien van die Verenigde Koninkryk uit te lewer sodat hy hier op aanklag van sy vrou se moord verhoor kan word. Dewani se uitlewering is onbepaald uitgestel terwyl hy behandeling ontvang vir sy geestestoestand.

– SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.