DG ontduik balju glo voortdurend

Mziwonke Dlabantu Foto: Mohau Mofokeng, Sowetan

Die direkteur-generaal (DG) van die departement van openbare werke, Mziwonke Dlabantu, ontduik steeds die balju van Pretoria-Wes met betrekking tot die betekening van ‘n hofbevel wat AfriForum vroeër teen die departement gekry het om sekere inligting aan AfriForum beskikbaar te stel.

Die inligting wat AfriForum by wyse van ‘n hofbevel wil verkry, hou verband met die huurooreenkomste tussen die departement en ‘n maatskappy genaamd Manaka Property Investments ten opsigte van die volgende:

• Die gebou van die departement van waterwese, geleë te Bosmanstraat 285, Pretoria
• Die kantoorgebou van die departement van binnelandse sake in die Hallmarkgebou, geleë te Vermeulenstraat (Madibastraat) 226, Pretoria
• Die kantoorgebou van Statistiek Suid-Afrika, geleë te Andriesstraat 167, Pretoria.

Die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria het reeds in April 2013 ‘n bevel uitgereik dat die tersaaklike dokumente binne 30 dae vanaf die hofdatum aan AfriForum beskikbaar gestel moet word, maar die direkteur-generaal versuim om die bevel in ontvangs te neem.

AfriForum se regspan het al by verskeie geleenthede die balju in Pretoria-Wes na die kantore van die direkteur-generaal gestuur, maar die balju is telkens meegedeel dat die direkteur-generaal nie beskikbaar is nie of in ‘n vergadering is.

AfriForum se prokureur, Willie Spies, sê dit blyk dat die direkteur-generaal tans betekening van die hofbevel probeer ontduik. “AfriForum sal sy regsopsies in die omstandighede ondersoek en die feite voor die tersaaklike hof plaas wat dit dan verder kan hanteer,” het Spies gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.