Dié app smoor pornografie in die kiem

Foto ter illustrasie. (Foto: Gaelle Marcel/ Unsplash)

Kinders gaan in die toekoms probleme in hul verhoudings ervaar weens ’n verwronge beeld van seks en verhoudings wat deur pornografie geskep is.

Só meen Johann Ebersohn, bedryfshoof van die baanbreker-app Lighthouse, wat pornografie blokkeer nog voordat dit op jou skerm verskyn. Dié app is ontwikkel om kinders teen onvanpaste inhoud op die internet te beskerm.

Die skeppers van die app, wat self ouers is, het besef dat daar nie ʼn soortgelyke app op die mark is nie.

“Die meeste ander apps van dié soort, blokkeer gewoon webwerwe wat pornografiese inhoud bevat en onvanpaste inhoud versprei,” verduidelik Ebersohn.

“Lighthouse is die enigste kinderbeskerming-app wat hierdie soort beeldmateriaal en video’s kan identifiseer en keer dat dit enigsins op die skerm verskyn.”

Een van die skeppers het We Are Monsters, ʼn sakeonderneming wat as vervoermiddel van tientalle, innoverende projekte dien, genader om Lighthouse op die been te kry.

“Sedertdien is Lighthouse ’n geregistreerde onderneming in die Verenigde Koninkryk met ’n 100%‑aandeel in die Suid‑Afrikaanse onderneming Lighthouse.”

Daarmee saam tree Lighthouse as waghond op en smoor enige toegang tot bekende pornografiese webwerwe in die kiem. Daar word gebruik gemaak van kunsmatige intelligensie (KI) om die beelde en video’s te ondersoek nog voordat dit die skerm van enige toestel tref.

“Die ouer installeer die ouer-gedeelte van die app op hul eie fone. Hulle sal daarna ’n skakel ontvang wat gevolg kan word om die app op hul kinders se fone af te laai.”

Dit is in die ouers se hande om die nodige funksies op die app op hul kind se foon te ondersoek en te stel sodat dit aan hul vereistes voldoen. Nie net kry ouers die geleentheid om ouderdomsgepaste inhoud vir hul kinders te verseker nie, hulle kan ook die app gebruik om internettoegang op die kind se foon te beperk.

“Volgens bevindinge van ’n studie deur die jeugnavorsingseenheid van Unisa se Buro vir Marknavorsing, kyk meer as die helfte van jong Suid-Afrikaanse kinders gereeld na pornografie, met minstens 10% van hulle wat dit elke dag kyk,” het Ebersohn verduidelik.

“Van die skokkendste dinge wat uit die navorsing na vore gekom het, is dat 35% van die kinders kinderpornografie kyk en 30% na gewelddadige pornografie kyk.

“Kinders gee nie regtig om dat kinderpornografie onwettig is nie.”

Dit is juis om hierdie rede waarom die Lighthouse-span onverpoos werk om toegang tot pornografie op elke vlak moontlik hok te slaan.

Hoewel die toepassing ’n hulpmiddel is wat handig te pas kom, benadruk Ebersohn dat ouers nie bloot op ’n app moet staat maak om hul kinders teen pornografie te beskerm nie.

“Dit is baie moeilik om te verhoed dat ’n kind toegang tot die internet en pornografie kry, maar ouers speel ’n belangrike rol om kinders waardes te leer en oop gesprekke te hê oor pornografie.”

  • Vir meer inligting oor die app, besoek die webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

AW ·

Wonderlik, mens moet alles probeer, om jou kinders te Beskerm, teen pornagrafie.

POPEYE ·

Stem nie saam nie. Jou kind moet verantwoordelikheid aanvaar en self die besluit kan maak. Ouers soek altyd n maklike uitweg. “Laai net die APP af en jy het jou deel gedoen” Waar is die opregte ouerskap.

Marthinus W ·

Pornografie is so oud soos die mens. Die oudste kunswerk wat opgegrawe is, die sg. Venus van Willendorf, kan tegnies (dalk) as pornografie beskou word. Japan en Skandinawie het geen sensuur – pornografie is toelaatbaar, maar, soos Popeye tereg se, dis die ouers se plig om hulle kinders te leer wat dit is, en dat hulle dan self die besluit moet maak.

Gaitsigubib ·

Ganade ouens ek weet hulle gaan een of ander tyd aan dit blootgestel word, maar beskerm hulle ten minste so lank as wat jy kan. Dwelms is ook oral in die wereld maar jy het nie n bakkie LSD en Cocaine wat voor die TV le nie. Die porn wat jy dees dae kry is nie die scope met sterretjies op nie, dis so siek ek kannie eers uitmaak met wat de duiwel is hulle besig nie.

piet ·

Nou gaan hulle eers nuuskierig wees en ander maniere vind om dit te kyk.

Wielspore ·

Baie goeie idee om ons kinders te beskerm. Daar behoort ‘n wet te wees wat ‘n vervaardiger van sagteware verplig om beskerming te bied teen pornografie anders word sy lisensie en sagteware nie goedgekeur. Sagteware soos Microsoft en Apple, net om twee te noem, moet ook nie versoenbaar wees met die pornografie.

VaalDonkie ·

Nou maar gaan werk daar en dan implementeer jy dit vir ons,

Gaitsigubib ·

Wiele ek het onlangs n program gekyk, van n besigheid wat deur facebook gehuur word vir “fact checking”. Eintlik sif hulle al die data en delete hierdie tipe inhoud waarvan ons nou praat. Hierdie span word ook deur ander maatskapye gehuur. Jy sal self moet kyk op youtube of jy dit kan opspoor. Ek was oral en ek het gesien, of so het ek gedink tot ek die program vind. Ek kan jou een ding se, as ons nie ons kinders gaan beskerm nie, weet ek nie of God ons sal vergewe nie. Jy is reg en almal wat jou afmerk is verkeerd.

isabelle ·

ouers sal geskok wees as hul sien wat kinders kyk- maar 12, 14jaar en soms jonger MAAR N FOON SAL HULLE KIND HE EN WIFI SAL DIE KIND HE en mamma en pappa kyk nooit nie en almal is aan die slaap…..Ai ek skud maar net my kop want die vrugte sal gepluk word

Dokter Pieter ·

Ek gebruik Qustodio. Dit is gratis vir een foon. Ek gebruik sommer paar epos adresse/rekeninge dan kan ek paar fone gratis beskerm. Mense, asseblief, doen moeite en laai die app. Kinders se akademie verswak van pornografie, en hulle kan nie gelukkige huwelike he eendag nie. Dis net so goed jy gee jou kind alkohol. Breek daardie verslawing anders gaan hulle hele lewe sleg benadeel word. En as jy as ouer self pornografie kyk, wees gewaarsku, jy gaan oor 10 jaar terug kyk en bitterlik spyt wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.