Geskryf deur Reint Dykema
Die Nasionale Vergadering stem vanmiddag oor die voorgestelde inligtingswet. Indien dié wetsontwerp goedgekeur word, is dit egter nie die einde van mediavryheid nie, maar die begin van ʼn nuwe stryd om media en vryheid van spraak in Suid-Afrika te bevorder. Die wetgewers en spesifiek die ANC het nie daarmee rekening gehou dat die media-landskap die laaste jare drasties verander het nie. Die boodskapper word gemuilband maar die boodskap sal bly versprei.
Die ANC is onder die indruk dat as hul die SABC likied kan hou dat hul boodskap sal versprei. Die klem met kommunikasie het egter verskuif van ʼn massa medium na dié van ʼn nis-kommunikasie wat deur sosiale media soos Facebook en Twitter gedryf word. Die boodskappe is meer geloofwaardig en dit het die vrywillige inkoop van die ontvangers wat boonop kan reageer met ʼn boodskap van hul eie.
Die grootste dryfkrag agter die ANC om die media in bedwang te hou met wetgewing lê daarin opgesluit dat korrupsie toegesmeer word en dat die ANC se tekortkominge as ʼn swak regering ontbloot sal word.
Daar is verskillende maniere om die optrede van die ANC te beveg. Op die korttermyn kan optogte gehou word, aangesien die ANC struggle-taal verstaan. Die wetgewing kan getoets word in die Grondwetlike hof soos wat AfriForum onderneem om te doen.
Aan die ander kant moet beter kommunikasie-platforms geskep word waarmee die boodskap versprei kan word. Die platforms sal ook nie noodwendig in Suid-Afrika gesetel wees nie maar dit kan op enige plek in die wêreld wees. Die boodskappe wat dit uitdra na Suid-Afrika en die wêreld om van kennis te neem gaan egter pasgemaak wees vir Suid-Afrika.
Die boodskappe gaan ook nie gekommunikeer word vir vreemdelinge nie maar aan aktiviste wat nie tevrede is met die huidige status nie.
Kyk ook na die video hier, lees die volledige nuusberig hier en Herman Toerien se bydrae hier.