“Die ergste oomblik van my lewe” – Yolande Korkie

Yolande Korkie Foto: Sapa stringer

Yolande Korkie Foto: Sapa stringer

Yolande Korkie sê haar vrylating deur Al-Kaïda, wat haar en haar man in Jemen ontvoer het, was een van die ergste oomblikke van haar lewe.

“Buiten die dag wat ons ontvoer is, was die skeiding van Pierre op só manier die ergste oomblik van my lewe,” het sy Donderdag aan verslaggewers in Johannesburg gesê.

Sy het ʼn pleidooi gelewer dat haar man vrygelaat sal word terwyl die sperdatum vir die losprys nader.

Korkie is verlede week, met behulp van Gift of the Givers, vrygelaat. Die egpaar, wat al 20 jaar lank getroud is, is in Mei in Taiz ontvoer.

Korkie sê haar man was siek toe sy vrygelaat is. Hy het ʼn mantelvliesbreuk en hy sukkel met sy niere.

Die ontvoerders het verlede week $3 miljoen (ongeveer R32.5 miljoen) binne agt dae geëis vir Pierre se vrylating.

Yolande sê die ontvoerders was onder die indruk hulle is Amerikaners, en hulle is ontvoer, aangesien hul persepsie van Westerlinge gebaseer is op velkleur.

“My krag het van God gekom,” het Yolande gesê.

Yolande sê sy glo haar man het ʼn mate van vrede om te weet dat sy veilig is en dit ook goed gaan met hul kinders. “Die volgende 48 uur gaan deurslaggewend wees,” het Michael Venter, woordvoerder vir die familie, gesê.

Hy doen ʼn beroep op alle Suid-Afrikaners vir gebed en emosionele ondersteuning.

Yolande het vroeër ʼn verklaring voorgehou waarin sy die ontvoerders versoek om Pierre vry te laat. Klik hier om meer te lees.

Sy het Pierre beskryf as ʼn nederige, saggeaarde man. Hy het skoolgehou in Jemen en sy het in hospitale gewerk.

Sy het verwys na die koningin van Skeba en koning Salomo uit die Bybel. “Die mense is goud,” het sy gesê. “Niemand het vir ons gesê ons sal so lief raak vir hulle nie.”

Sy het die ontvoerders herinner aan die vergewensgesindheid wat Mandela voorgehou het. “Ons smeek julle genade, betoon asseblief verdraagsaamheid.”

Anas al-Hamati, kantoorbestuurder van die humanitêre organisasie, Gift of the Givers in Jemen, het Maandagaand persoonlik met die ontvoerders begin onderhandel.

Volgens Imtiaz Sooliman, direkteur van die organisasie, verloop onderhandelinge nie glad nie. Hulle het die ontvoerders vir ʼn maand uitstel gevra, en wag nou vir ʼn antwoord.

Yolande het Maandag in Suid-Afrika geland.

Lees alles oor Pierre Korkie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jasper ·

Ons dink aan julle in ons gebede.
Sal graag wil verneem hoe betrokke ons Regering in die onderhandelingsproses is, aangesien daar geen diplomatieke betrekkinge tussen S.A. en Yemen is nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.