Die heimwee na die Mandela-era

Mandela as jong prokureur Foto: Webwerf http://seoppc.co.za

Die waardige statuur van Nelson Mandela was histories die gesig van die ANC. Sy internasionale ikoniese status was die versinnebeelding van die beeld van Suid-Afrikaanse swartmense as die verdruktes en witmense as die verdrukkers. Die lang tronkstraf wat hy as leier van die ANC uitgedien het, het hom die simbool gemaak van die ANC se stryd om demokrasie en die bevryding van swartmense.

Deur die jare is die ingewikkelde Suid-Afrikaanse problematiek vereenvoudig tot ‘n stryd tussen die goeie en die slegte – ‘n stryd vir en teen demokrasie en menseregte. Daar is nie ruimte gelaat vir die moontlikheid dat die Afrikaner self ook geldige aansprake, regte en vrese kon hê nie. Die skadukante en donker kolle van die ANC is gaandeweg ignoreer, vergewe of verswyg, in kontras met die ou Suid-Afrika wie se foute dawerend uitbasuin is. In die oë van die wêreld kon die een kant niks verkeerd doen nie, en die ander kant niks reg nie. Die een kant is onder die mikroskoop geplaas, vir die ander is die oë toegeknyp. Die wit Afrikaner het mettertyd die teenpool van die morele onverwondbaarheid van die Mandela-beeld geword, die simbool van uitbuiting en onderdrukking. Die Afrikaner was vir die Weste die gesig van hulle eie skuldige koloniale gewetes, waarop hulle alles wat sleg is projekteer het.

Die Koue Oorlog en die alliansies wat dit onderlê het, het enige makro politieke beweging vir jare bevries, omdat daar nie die politieke bewegingsruimte was om oplossings te onderhandel nie. Die partye was net te ver uitmekaar. Na die val van die Sowjetunie kon die onderhandelde skikkingsproses hier begin, en die uiteindelike ooreenkoms is deur die wêreld as ‘n wonderwerk verwelkom- met Mandela as die gemoedelike en gematigde gesig daarvan. Die ANC het daarna stadigaan begin om sy greep op die land te verkry, onder die reënboogkleurige rookskerm van die Madiba-magic. Suid-Afrika se geskiedenis en status as die vasteland se ekonomiese reus, het saamgewerk om die Mandela-beeld nou verder te laat groei tot die simbool van hoop van die hele Afrika.

Ná Mandela-afdraande

Na Mandela se aftrede het dinge begin skeefloop, namate die momentum van die vorige werkende staat afgeneem het. Gaandeweg het die Mandela-beeld en –era begin verdof, en die wonderwerk-liefling van die wêreld het net nog ‘n Afrikastaat geword- met gewone leiers en hulle lande se buitengewone probleme. Suid-Afrika is steeds as een van die suksesvolle uitsonderings op die vasteland beskou, ‘n soort laaste kans vir Afrika. Tekens van demodernisering en staatsverval het wel begin kop uitsteek, maar daar is geglo dat die land en sy leiers steeds die wil en vermoë het om hulle probleme op te los en Afro-pessimiste verkeerd te bewys.

Maar toe kom Julius Malema op die toneel, en begin groot onttrekkings maak uit die politieke kapitaal wat die ANC oor jare opgebou het. ‘n Voormalige kinder-kryger, wat homself voorgehou het as ‘n toekomstige leier van die ANC volgens die voorbeeld van Mandela as voormalige ANC-jeugleier. Sy roekelose retoriek het ingedruis teen die versigtig geboude morele hoëgrond-beeld van die Mandela-ANC. Malema se radikale uitsprake oor onteiening, nasionalisering en rasseverhoudinge, het Idi Amin-beelde opgeroep van Afrika-mislukkings, veral omdat hy vir ‘n lang tyd sterk steun in die ANC geniet het. Kiddi Amin, soos ‘n joernalis hom genoem het. Die AfriForum hofsaak en Malema se veldtog teen Zuma het dit later onmoontlik gemaak om hom in die party te hou, en hy is uiteindelik uitgedryf. Die Economist het bespiegel dat hy nie in die politieke wildernis ingejaag is vanweë sy radikalisme nie, maar omdat hy Zuma teengegaan het.

Zuma-demodernisering

Die bekende joernalis Brian Pottinger, het in sy boek oor Mbeki sy nalatenskap beskryf as die “demodernisering van Suid-Afrika.” Om dit kort te stel, het Mbeki nie aan die verwagtinge voldoen nie. Maar die waarheid is veel erger. Mbeki het ‘n werkende staat met ‘n moderne infrastruktuur geërf, maar die staatsdiens só transformeer dat die staat toe mnr Zuma oorgevat het nie meer kón doen wat die regering wóu nie.

Mnr Zuma het op sy beurt weer begin struikel van een skandaal na ‘n ander. Talle politieke kenners glo dat hy nie ‘n moderne land kan regeer nie, en wens kliphard dat hy uittree. Die sluimerende vrees van nog ‘n Afrika-mislukking- die van Afrika se laaste hoop- word stadigaan weer wakker. Maar dis nie so eenvoudig om net mnr Zuma vir die land se toestand verantwoordelik te hou nie. Hy is maar net die onbevoegde leier van ‘n onbekwame party. ‘n Party wat in die Mandela-era tydens die Kodesa onderhandelings toegewings gemaak het om die mag te kry, maar nadat hulle mag stewig genoeg gevestig was dit gebruik om hulle oorspronklike doelstellings te verwerklik. Die gevolge is daar vir almal wat dit wil sien. Mnr Zuma is dus nie die probleem nie, maar die gevolg van die eintlike probleem, naamlik die ideologies gedrewe onvermoë van die ANC se derdewêreld struggle-ideologie- om ‘n moderne land soos Suid-Afrika te bestuur.

Heimwee na die Mandela era

Die nasionale reaksie op hierdie nasionale verval is ‘n heimwee na die Mandela-era, toe die staat nog gewerk het, rassebetrekkinge hartlik was, mense nie skaam was vir die President nie, en daar nog nie soveel geweldsmisdaad, staatsverval en rassewette was nie. Dis heimwee wat gedryf word deur die gevolge van sy opvolgers se swak leierskap, wat dreig om sy nalatenskap te vernietig. Die Mandela-era het ‘n standaard gestel waaraan die ANC in die toekoms gehou sal word, ‘n standaard waaraan hulle nie kan voldoen nie, omdat hulle die staat se vermoë om die land suksesvol te regeer en te bestuur sélf te ver afgetakel het. Die ANC kan maar aanhou om die verlede te beskuldig, maar die grootste probleme is tuisgemaak- deur die ANC self. Die ikoniese status van Mandela is nie genoeg om die verval in die land om te keer nie, maar dit stel ‘n belangrike standaard om die ANC in die toekoms te meet. Dit is nie nou al moontlik om te onderskei tussen die werklike Mandela en die wêreldbeeld van Mandela nie, die geskiedenis sal nog daaroor uitspraak gee.

Nelson Mandela was ‘n waardige leier wat die ANC met groot bekwaamheid tot ‘n oorwinning gelei het. ‘n Oorwinning wat deur gesiene joernaliste soos Patty Waldmeir as ‘n “onderhandelde rewolusie” beskryf is- iets wat eers lank na die Mandela-era vir almal duidelik geword het. Mandela het die land met wysheid gelei, en was die simbool van die nuutgevonde nasionale eenheid na 1994.

Die politieke wittebrood van die Mandela-era is ongelukkig nou lankal verby, en almal wat lief is vir hierdie mooi land en sy mense sal die hand aan die ploeg moet slaan om nie die “laaste hoop van Afrika” te beskaam nie. Suid-Afrika verdien beter.

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Nuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae