Die Kaap is weer Hollands na gesprek oor die kleurrykheid van Afrikaans

“Ek praat Afrikaans. Hierdie is my storie.” Dit was Donderdag die tema van Maroela Media se bekendstelling by Jonkershuis op die Groot Constantia Wynlandgoed in die Kaap. Of jy Sandveld-Afrikaans, Griekwa-Afrikaans, Karoo-Afrikaans of Rehoboth-Afrikaans praat, en of jy Afrikaanse tsotsitaal, Namakwalands of Noordelike Afrikaans verkies – Afrikaans het ʼn storie wat brand om vertel te word. Die debat het die tonge behoorlik losgemaak oor die kleurrykheid van Afrikaans.

Afrikaanssprekendes van elke uithoek van die land het hul stories, ervaringe en belewenisse gedeel oor hierdie “soetste” taal. Die uitvoerende hoof van Solidariteit, Flip Buys, het die verwelkoming gedoen deur te sê Maroela Media moet ʼn kuber-markplein wees waar Afrikaanse mense bymekaar kan kom om te gesels. Hy sê Afrikaanssprekendes praat dikwels oor mekaar maar nie met mekaar nie. Buys meen Maroela Media moet dien as ʼn taalfabriek aangesien die taal nie net in die kombuis kan oorleef nie. Hy sê Maroela Media moet Afrikaans in die nuwe wêreld en era inlei.

Die geliefde skrywer, dramaturg, digter en akademikus, professor Hans du Plessis, het die debat gelei. Hy het die debat afgeskop deur te sê sonder Afrikaans is versoening in Suid-Afrika nie moontlik nie. Du Plessis sê dit is noodsaaklik dat Afrikaanssprekendes mekaar se stories moet ken en verstaan.

Dr. Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit en spreker van Noordelike Afrikaans, het benadruk dat Afrikaans nie ʼn witmens taal is nie maar dat dit verskillende dialekte en sêgoed het. Hy sê die veelheid van Afrikaanse identiteite moet erken word en dat mense deur meer as net taal gevorm word. Hermann sê taal is deel van ons identiteit. Hy sê dit is vir hom belangrik om sy taal uit te leef.

Diko van Zyl, historikus, wynkenner en spreker van Sandveldse Afrikaans, meen jongmense het die verantwoordelikheid om Afrikaans voort te bou. Van Zyl sê die toekoms van dié taal lê nie in formaliteite nie maar in die informele aard om spontaan op te tree as Afrikaanssprekende.

“Ek baklei gereeld vir Afrikaans.” Anthony “Speedo” Wilson, akteur en spreker van Marabastad-Afrikaans en tsotsitaal, sê taal gaan oor dinge wat mens doen en nie net oor ʼn gepratery nie. Hy sê Afrikaanssprekendes moet ophou kla en dinge doen vir én in Afrikaans. Wilson het grappenderwys gesê wanneer hy van oud-president Nelson Mandela droom, dan praat Madiba Afrikaans.

Dr. Dirk van Schalkwyk, ʼn voormalige redakteur van die WAT en spreker van Rehoboth-Afrikaans, sê hy het ʼn groot variasie van Afrikaans van sy ouers geërf en dat hy dit as sy beste erfporsie ooit beskou. Van Schalkwyk sê iets wat hom opgeval het gedurende sy studies oor dié taal is die kwaliteit van mense wat dit praat.

“Afrikaans is die taal wat algehele versoening te weeg gaan bring.” Poem Mooney, bekende storieverteller van Oudtshoorn en spreker van Karoo-Afrikaans, sê hy is lief vir Afrikaans want hy kan homself daarin verwoord. Mooney sê dit is die taal waarin minderheidsgroepe mekaar in kan verstaan.

Elliott Mashinini, voorsitter van die Soweto-tak van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) en swart Afrikaanssprekende, sê die feit dat hy Afrikaans kan lees, praat en skryf maak van hom ʼn Afrikaner.

Florence Ann Filton, digter en spreker van Namakwaland-Afrikaans, het beklemtoon dat mens trots moet wees op jou taal om dit te laat voortbestaan. Sy sê Namakwaland word geken deur sy blommeprag wat elke jaar verskyn maar dat Namakwaland se taal heeljaar in blom staan. Sy sê dié taal sal nooit uitsterf nie.

Willem Fransman, skrywer en spreker van Kaapse-Afrikaans, het die bogenoemde sprekers sê uitlatings onderstreep deur te sê hy sal onbeskroom Kaap en Afrikaans bly tot hy sy kop neerlê.

Du Plessis het die sprekers se stories saamgevat deur te sê: “Afrikaans is deel van waarnatoe ons gaan en die storie wat ons vertel, is wat ons is.”

Wilson het afgesluit deur te vertel dat hy eenkeer gevra is hoe hy nog Afrikaans kan praat aangesien dit as deel van apartheid as onderdrukking staal gesien is. Hy het geantwoord deur te sê as hy droom, dan droom hy in Afrikaans. As hy protes aanteken, dan is dit in Afrikaans, Hy sê hy praat nie Afrikaans om gat te kruip of omdat hy aan ʼn geheime organisasie behoort nie maar omdat dit is wie en wat hy is.

Buys het die gesprek opgesom deur te sê: “ Ons is baie kulture verenig deur een gemeenskaplike taal.”

Maroela Media wil graag die debat voorsit op die webtuiste. So kom vertel vir ons jóú storie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Anoniem ·

Baie geluk met die bekendstelling in die Kaap Maroela Media :-)

Kobus Bezuidenhout ·

Die loods van Maroela Media in die Kaap het weer my oë oopgemaak en laat besef dat Afrikaans deel uitmaak van ‘n klomp verskillende mense in Suid-Afrika.

Wat wonderlik is, is dat elkeen ‘n sterk sin van identiteit het en ‘n ding op sy eie manier doen.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.