Die mens het sy beskawing minstens ten dele te danke aan bier, aldus navorsers van die Simon Fraser-universiteit in Kanada.
Hul verslag is pas in die Journal of Archeological Method and Theory gepubliseer, en die New York Times het oor die artikel berig. Die navorsers wys daarop dat die mens vir sy oorlewing as primitiewe wese vir sosiale samesyn en ‘n soort groepdissipline afhanklik was. Dié gebondenheid het nuwe denke en veral die uitdrukking daarvan gesmoor.
Soos die wilde diere sou die mens ook periodiek vrugte raakgeloop het wat reeds begin gis het. Later het die mens self die voggies begin maak om daardie “gevoel” te kry. En dit was wanneer die inhibisies bietjie getemper is dat daar ‘n groter vrymoedigheid was om vernuwende gedagtes te opper.
Uiteraard moes die voggies nie so hard praat dat niks die volgende dag onthou is nie.
Die navorsers meen voorts dat, soos ook ander al vermoed het, die mens in die eerste plek graan vir die skopdop begin verbou het, eerder as graan vir kos. Dit het vir die Ou Wêreld, maar veral die Nuwe Wêreld gegeld. In die Amerika’s was die mielie se voorsaat, teosinte, vanuit die staanspoor geskik om bier van te brou, maar dit sou baie geslagte neem voor die mielie ontwikkel is en as meel sou deug.
Baie navorsers sal waarskynlik van die outeurs verskil. Suid-Afrika het juis verlede jaar een van die top tien van die argeologiese vondste vir 2013 opgelewer weens ‘n bevinding dat ‘n stokkie van 24 000 jaar oud gif bevat het wat daarop gesmeer is. Hierdie, en ander Suid-Afrikaanse ontdekkings toon dat die mens hier lank reeds oor kognitiewe vermoëns beskik het – lank voor die mens sowat 10 000 jaar gelde bier van graan begin verbou het.