Die onrus smeul in Londen

Deur Heinrich Matthee

Dr. Heinrich Matthee is ʼn politieke en veiligheidsontleder wat spesialiseer in Midde-Oosterse en Moslem-politiek wêreldwyd. Dr. Matthee het meer as 14 jaar se ervaring in adviesdienste aan regerings, multinasionale maatskappye en nie-regeringsorganisasies. Hy skryf uit Londen.

Foto: Facebook

‘n Jongman met ‘n gesigbalaklava wat oorhaal om ‘n petrolbom na ‘n rooi Londense bus te gooi. ‘n Pragtige glas- en siersteenwinkelsentrum se ingang met ruwe planke diggetimmer. ‘n Vrou wat spring uit haar woonstel bokant ‘n apteek wat aan die brand gesteek is.

Dit is die beelde uit die wêreldstad Londen vandeesweek. Meer as 450 mense is al gearresteer sedert die oproer Saterdagaand, 6 Augustus 2011 uitgebreek het. Dit is egter net die oortjies van die seekoei. Daar is veel meer klein en groot gevalle van intimidasie, brandstigting en straatroof deur duisende betrokkenes.

Die polisie beheer al drie nagte nie die strate van Londen nie. Bedags is dit stil in meeste woonbuurte en gebiede. Baie besighede sluit egter vroeg. En daar is ‘n spanning in die lug wat nie te doen het met die krisisekonomie nie. Die klank van polisiehelikopters en sirenes sein snags egter onmag eerder as gesag. Meestal is die onderbemande magte afwesig of meng nie direk in nie.

Die oproer het opgevlam na die polisie ‘n swartman in die arm buurt Tottenham doodgeskiet het. Volgens sy familie is hy ‘n wetsgehoorsame gemeenskapsleier. Volgens die polisie was hy ‘n bendeleier en is daar eerste uit sy taxi op hulle geskiet. Die oproer was miskien aanvanklik spontaan en beperk tot Tottenham Saterdagaand. Intussen is dit georganiseerd en wydverspreid. Sondagaand het dit suid en oos in Londen versprei na gebiede soos Brixton en Oxford Circus.

Op Maandagaand het dit verder versprei, ook na stede soos Liverpool en Birmingham. In Notting Hill het mense in ‘n Michelin-restaurant se wynkelder gaan wegkruip toe oproermakers binnekom. In Suid-Londen het ek gistermiddag laat in ‘n kebabwinkel kos bestel. Twee groot mans van Nigeriese afkoms het ingekom en die Turkse werknemer onbeskof beveel om kos te maak. Hy het hom ingehou vir die oomblik en die kos gemaak.

Die mans het daarna vertrek. Hulle was verkenners wat die winkelsentrum daar naby kom bekyk het, soos die motors met bendelede wat op die parkeerterrein gedraal het.

Teen omtrent tienuur die aand het byna vyftig jong mans die winkelsentrum se een ingangdeur gebreek. Hulle het veral plasma TVs en handelsmerksportklere weggedra na netjiese wagtende motors. Sowat 200 fietse wat daar naby gesluit gestaan het, is gesteel. Die polisie was nie te sien nie.

Die daders is meestal werklose jongmense, diegene wat al jarelang op welsyntoelaes leef, en straatbendes. Hier en daar is wit gesigte te sien, maar die meeste van die oproermakers is swart. Baie swartmense in Londen is egter wetsgehoorsame burgers, en vir hulle is die rampokkery ‘n skande.

Die oproermakers is georganiseerd. Hulle gebruik Blackberrys om mense bymekaar te roep vir die “Londense somer”. Pamflette word selfs uitgehandig wat mense aanraai om agterna hul klere te verbrand. So kan hulle opsporing vermy as hulle in gebiede met veiligheidsTV was.

Bedags in meeste meer gegoede buurte is dit stil. Snags verniel en beroof oproermakers in balaklavas en baadjies met kappe winkelsentrums in sowel gegoede en arm buurte.

Bendeleiers in spoggerige motors gee instruksies aan jeugdiges. Die jeugdiges skop tuinmuurtjies om en gebruik die bakstene om winkels te bestook en dan luukseartikels te steel. Vele busse, motors en winkels is al aan die brand gesteek. ‘n Blanke jongman is volgens die TV ook deur straatbendes gedwing om sy klere uit te trek en te oorhandig.
Die skade vir die belastingbetalers van Londen is baie werklik. Reeves is byvoorbeeld ‘n familiebesigheid wat al byna 140 jaar bestaan en vyf geslagte in die familie is.

Die oproermakers het dit aan die brand gesteek sodat net die swartgebrande mure en smeulende as oorbly. Die eienaar Trevor Reeves is verslae: “Dis net heeltemal vernietig. Woorde ontbreek my. Dit is net weg, dit was vyf geslagte (se geskiedenis).”

Die verskillende media gee verskillende verduidelikings oor die oorsake van die oproer. Volgens David Green van die denktenk Civitas is die polisie se teensinnigheid om geweld toe te pas een rede. Sedert die Macpherson verslag van 1999 is die polisie volgens hom ook hipersensitief oor ras.

Die polisie staan nou selfs al eenkant toe as lede van etniese minderhede skade aangedoen word. Die mense wat die winkels besit waar brand gestig is of woon in die woonstelle daarbo het nie die beskerming gekry wat hulle verdien nie.

Jeugkultuur-kenner en professor John Pitts noem weer dat die meeste jongmense betrokke niks het om te verloor nie. Hulle vereenselwig hulle nie met die samelewing om hulle nie. “Ouers en onderwysers in die gemeenskappe voel ook lankal dat beheer oor hulle kinders verloor het. Oproermakers sien snel dat die polisie nie die situasie kan beheer nie, wat lei tot ‘n soort adrenalien-gevulde euforie – skielik is jy in beheer en daar is niks wat enigeen kan doen nie.”

Die swak beskerming deur die polisie beteken dat meeste belastingbetalers maar vroeer besighede sluit en in hulle huise gebeure op die TV volg. In Asiatiese gemeenskappe waar oproermakers dreig, is dit anders. Daar vorm die mans wel beskermingsgroepe om verdere vernieling en vernedering te verhoed.

Die linkse Guardian-verslaggewer Paul Lewis beskryf die tonele in Kingslandweg, Hackney op Twitter: ‘Kingslandweg chaoties soos Turkse mans ander, oorwegend swart jeugdiges met stokke, metaalbarrikades en bakstene aanval.”Hy haal een van hulle aan: “Dit is Turkies-Koerdiese gebied. Hulle kom na ons winkels en ons beveg hulle met stokke.”

Is Londen, die historiese stad by die Teems, nou ‘n betwiste gebied tussen sy verskillende klasse en groepe? Dit is ‘n vooruitsig wat niemand gelukkig sal stem nie.

Die gewone lewe sal voortgaan: die transaksies en die internasionale diplomasie, die glanspartytjies en die rooi stadsbusse.

Maar die onrus smeul en sal vorentoe weer uitbars. Op die strate, en ook in die geldmarkte. Sal ‘n nuwe sosiale kontrak die verdeeldheid kan besweer?

Is jy in Brittanje? Stuur vir ons jou foto’s of ooggetuie verslae na [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

louis.dup ·

Heinrich ~

Wat ‘n helder skets van Londense onrus!  Ons sien die winkels saam met jou brand. 

Soos in jou jare as voorslagnavorser in die Sentrum vir Militêre Studie wys jy hoe om alledaagse gebeure te illustreer. Hoe om vaaghede en preke te vermy ten gunste van stories met betekenis.   Ons smag om meer te weet.

Louis du Plessis

ReniervLoggerenberg ·

Hallo Hein

Goeie eerste kommentaar. Hoekom is die ras-rol so onderspeel hier in die Britse media as die buitewereld dit duidelik as ‘n rasseopstand sien en hoe verwag die Britte dat ‘n polisiemag wat ontman is en links en regs aangekla word, wel effektief kan wees? Wie sal die meeste baat vind by hierdie chaos? Ek sal graag hoor wat jy hiervan dink. Geluk met die nuwe werk.

Heinrich Matthee ·

Goeiedag Renier,
Die London Evening Standard omskryf die kerngroep van oproermakers só op 9 Augustus: “Dit is duidelik dat ’n deel van Londen se onderklas leef,  indien nie in absolute  armoede nie, dan in ’n relatiewe armoede wat hulle uitsluit van verbruik. Tesame met die groei van ’n geweldadige bendekultuur tydens die afgelope dekade, het dit die toestande geskep vir die die uitbreek van wetteloosheid deur – hoofsaaklik maar nie slegs – jong, swart mans wat geen behoefte het om hulle te hou aan ons stad se sosiale norme nie.”
Burgemeester Boris Johnson se kommentaar in dieselfde koerant het ‘n soortgelyke strekking. Die oproermakers het by bogenoemde groep ontstaan, maar naderhand allerlei verskillende subgroepe betrek, ook verveelde middelklasblankes en opportunistiese sokkerboewe. Gierigheid en opwinding, selfs portuurgroepmededinging speel ’n rol.
Terselfdertyd kom diegene wat die oproermakers probeer keer het, uit alle groepe, ook Afro-Karibiese Britte. Veral gemeenskappe van Pole, Turke, Punjabi Sikhs en Pakistanse Moslems het hulself laat geld. Waar hulle nie hulself beskerm het nie, soos in Croydon, staan hulle op die fotos verwese en kyk na hulle brandende huise en winkels.
Jy vra wie by hierdie oproer baat? Elke politieke faksie verkondig dat die oproer eintlik bevestig hoe reg sy agenda is. Die oproer het meeste mense in Londen se gesindhede verhard. Die Tories se valke oor wet-en-orde en beperkte immigrasie sal vorentoe hieruit voordeel trek.
Die skeidslyne tussen regs en links is egter nie noodwendig absoluut nie. Soos jy weet, verskoon sommige oproermakers hulle diefstal as ’n aksie om hul belastinggeld terug te kry na die regeringsbesuinigings of ’n reaksie op wat hulle by groot sakelui sien.Die regse Telegraph se hoofkommentator skryf nou self dat die samelewing aan die bokant moreel ewe verrot is as aan die onderkant. Hy verwys na die groot bankiersbonusse en skandale rondom parlementslede se toelaes.
Daarenteen word beperkte immigrasie, gewoonlik ’n Tory-tema, nou ook bespreek in die sogenaamde Blou Arbeidersparty-faksie van Maurice Glasman. Blue Labour wil ’n skakel skep tussen die huidige publieke wantroue teenoor globale maatskappye en massa-immigrasie. Hulle argument is dat die bedrywe se steun vir oop grense en goedkoop arbeid inheemse werkers se lone afdruk. Die oproer onder die gegriefdes in Londen versterk dalk hulle boodskap van “Eie werkers eerste”.

ReniervLoggerenberg ·

Hallo Hein

Goeie eerste kommentaar. Hoekom is die ras-rol so onderspeel hier in die Britse media as die buitewereld dit duidelik as ‘n rasseopstand sien en hoe verwag die Britte dat ‘n polisiemag wat ontman is en links en regs aangekla word, wel effektief kan wees? Wie sal die meeste baat vind by hierdie chaos? Ek sal graag hoor wat jy hiervan dink. Geluk met die nuwe werk.

Anoniem ·

ek stem nie saam met jou nie Kobus, ek dink wel rasseonenigheid speel ‘n baie groot rol, selfs al is dit miskien nie die hoofoorsaak nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.