Soorte resepte:

Dié suikervrye drankie groet SA’ners oor drie maande

(Argieffoto.)

Die gewilde suikervrye drankie TaB groet Suid-Afrikaners oor minder as drie maande ná amper 60 jaar op die winkelrakke.

Maroela Media het vroeër berig dat Coca-Cola dié nuus reeds in 2020 in ʼn verklaring bekendgemaak het en verduidelik het dat TaB van die mark afgehaal word om plek te maak vir groei en om die fokus na gewilder gaskoeldranke te verskuif.

“Dit gaan nie daaroor om slegs ʼn sekere aantal produkaanbiedings onder die handelsmerk te dra nie. Die doel is om trefkrag en groei te bevorder. Dit gaan daaroor om die verbruiker te volg en doelgerigte besluite te neem oor produkte wat ons beleggings en handelsmerk bevorder,” het die verklaring destyds gelui.

TaB-verkope is reeds einde 2020 in die VSA gestaak, maar daar is besluit om dit “geleidelik” van die Suid-Afrikaanse mark te verwyder.

TaB sal dus nie in Suid-Afrika – sy laaste oorblywende mark – vanaf die begin van 2023 beskikbaar wees nie.

Dié drankie het reeds in 1963 die rakke getref en was Coca-Cola se vlagskip-dieetdrankie.

Die naam kom van die Engelse term “to keep tabs” en verwys na die feit dat mense wat hul gewig en gesondheid dophou dié drankie sonder skuldgevoelens kan geniet.

Coca-Cola erken dat daar sonder TaB waarskynlik ook nooit Diet Coke of Coke Zero sou wees nie.

Dié maatskappy het op sy amptelike Twitter-rekening verbruikers probeer troos en hulle aangemoedig om TaB vir Coke No Sugar, No Caffeine te verruil.

Bykomende bronne: Business Insider.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Kosie ·

Gaan my glad nie pla nie, ons drink nie coke se gif produkte nie.

Hennie ·

Ek geniet eerder ‘n glas water as om die gemors te drink wat COCA-COLA opdis!

Phillip ·

koop lankal nie meer Coca-Cola nie Kingsley van R10 is meer bekostigbaar en ook lekkerder die ander een Twisa .

piet ·

Niks kom by die ware Coke nie. Ek moet se Hyperama se homebrand coke is nogal heel aanvaarbaar, ek koop dit soms.

Sêmanet ·

Hulle haal suiker uit die koeldrank uit maar die winkelrakke is vol sjokolades. Hoe gaan hulle maak dat mense minder suiker gebruik? Ek koop ook net Kingsley aangesien dit lekkerder smaak as die Coke en Sparletta op die mark.

Antie Sarie ·

Vandat sacharien uit Tab gehaal was in die 80’s, was dit buitendien nie meer lekker.

LOUISE ·

ek wens coca cola wil meer geure sugar free maak, ons diabete is al lam gedrink aan die swart sugar free koeldranke, regtig waar, jive het op n staium als in sugar free gehad, nou kry jy nie eers een geur sugar free nie

Wielspore ·

Nogal my vrou se voorkeur drankie, die ander suikervrye drankies vind nie eintlik aanklank by haar. Die res van ons gesin geniet die Kingsley brand, selfs hulle sappe is aangenaam.

Antie Sarie ·

‘n Familielid het jare gelede gesê dieet koeldrank maak vet. Want hy het nog nooit n maer persoon gesien wat dit drink nie. Dalk steek daar waarheid in sy satire.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.