Dief stuur telefoonnommers handgeskrewe terug

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Dief in China het noukeurig 11 bladsye met telefoonnomers van ʼn gesteelde iPhone afgeskryf en dit aan die eienaar teruggestuur.

Die grypdief het die Apple-selfoon moontlik gesteel toe hy en die eienaar, Zou Bin, ʼn taxi gedeel het, het Xinhua-nuusagentskap Maandag berig.

Zou het nagenoeg 1 000 telefoonnommers in sy selfoon se geheue gestoor, sonder om seker te maak dat hy ʼn rugsteunkopie daarvan besit. Hy was dus meer bekommerd oor die verlore data as die gesteelde foon.

“Ek weet wie jy is. Jy het langs my gesit. Ek kan jou verseker ek gaan jou opspoor,” het hy in ʼn teksboodskap aan die grypdief gesê. “Deursoek die kontaknommers op my selfoon en jy sal sien watter tipe werk ek doen. Stuur my foon terug na die onderstaande adres as jy verstandig is.”

Die boodskap was klaarblyklik ʼn dreigement: Zou werk in die kroegbedryf in China wat gereeld verbind word aan bendebedrywighede.

ʼn Paar dae later het hy ʼn pakkie met sy SIM-kaart en 11 bladsye vol handgeskrewe telefoonnommers ontvang. Hy was glo stomgeslaan. “Dit moes ʼn geruime tyd geduur het om al die nommers neer te skryf. Ek veronderstel sy hand is nou seer geskryf,” het Zou aan Xinhua gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Justi ·

Die dief klink of hy bedagsamer as die gewone diewe is………..hehehe ai tog, die nommer afskrywery het hom seker baie lank geneem.

Hy gaan eelte tussen sy vingers he.

EyesEars ·

Mens kan in ‘n mate amper jou hoed afhaal vir hierdie dief. Sy dapperheid bewonder en hom ook amper jammer kry. Baie mense sal natuurlik nie saamstem nie, want steel is steel. Miskien het hy n noodgeval gehad en soos baie mense nie ander vertrou nie, sou ek raai, dat om te vra, dalk nie ‘n opsie was op daardie stadium nie. Ek hoop die Zou persoon sal nie te hard wees op die dief nie. Dit wil voorkom of die dief tog in n mate morele waardes van erens geleer het. Meer in elk geval as wat gese kan word van ‘n hele paar in Suid Afrika.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.