“Diewe” doen hulself as polisiebeamptes voor

Vyf mans is in hegtenis geneem nadat hulle hulself glo as polisiebeamptes voorgedoen het en ʼn onbekende bedrag geld by ʼn maatskappy in Woodlands, KwaZulu-Natal, gesteel het.

Die mans, tussen 36 en 52 jaar oud, het personeel Saterdag by PPL Skrootwerf in Lincolnweg aangehou en ʼn bedrag geld gesteel, het kol. Vincent Mdunge, woordvoerder van die polisie in KwaZulu-Natal gesie. Mdunge sê ʼn plaaslike inwoner het die voorval aanskou en die polisie ontbied. Polisie is in kennis gestel dat een van die verdagtes in volle polisie-uniform geklee is, en die ander polisie-aanstellingskaarte by hulle gehad het. “Terwyl die lede die perseel genader het, het hulle ʼn rooi Astra-motor gesien wat by die beskrywing van een van die verdagtes se motors gepas het,” het Mdunge gesê.

Die voertuig is afgetrek en deursoek. Die polisie het die polisie-uniform, aanstellingskaarte, R650 en twee ongelisensieerde vuurwapens opgespoor.

Mdunge sê dit is nog nie duidelik wat met die kontant gebeur het wat by die skrootwerf gesteel is nie. Die mans is vir die besit van ongelisensieerde vuurwapens, gewapende roof en nabootsing van ʼn polisiebeampte aangekla.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.