Diewe gee skildery terug nadat hulle sukkel om dit te verkoop

ʼn Skildery deur Belgiese surrealis, meester Rene Magritte, wat twee jaar gelede tydens ʼn gewapende roof gesteel is, is aan die museum terugbesorg nadat die diewe glo gesukkel het om dit van die hand te sit, het die Rene Magritte-museum Vrydag gesê.

Die werk, getiteld “Olympia” wat ʼn naakskildery van die kunstenaar se vrou is met ʼn groot skulp op haar maag, is in September 2009 deur twee gewapende mans uit Magritte se voormalige huis, wat per afspraak as museum dien, gesteel. Kundiges het in daardie stadium gesê die welbekende skildery, ter waarde van ongeveer drie miljoen euro, sal moeilik wees om te verpand. Meer as twee jaar later het ʼn persoon ʼn deskundige wat by ʼn versekeringsmaatskappy werk, gekontak en aangebied om die skildery sonder enige voorwaardes terug te besorg, het Andre Garitte, kurator vir die museum, aan AFP gesê. “Hulle het duidelik verstaan dat hulle nie die skildery sou kon verkoop nie, dit is té bekend,” het hy gesê. “Dit het hulle in die verleentheid geplaas en hulle het eerder gekies om daarvan ontslae te raak. Ons is dankbaar dat hulle nie die skildery vernietig het nie.” Die museum, wat nou weer die skildery in hul besit het, moet nog besluit of hulle dit weer gaan ophang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.