Diewe met ‘n gewete

Lukas, sy ma Leslie Smith, en Sam Roy saam met Bailey

‘n Seuntjie van Kanada is weer met sy geliefde hond herenig nadat die troeteldier weer by hul huis afgelaai is.

Lukas Smith (4) se hond Bailey is verlede week voor ‘n kruidenierswarewinkel in Peterborough, Kanada, gesteel. “Dit breek ons harte,” het Lukas se ma, Leslie Smith gesê. “Ons wil hom graag terughê. Lukas, wat spraakprobleme het en met motoriese vaardighede sukkel, het Bailey by sy grootouers gekry nadat sy pa in 2010 in ‘n motorongeluk gesterf het. “Bailey het Lukas baie gehelp. Hulle is beste vriende. Lukas is skaam voor mense, maar hy is mal oor diere,” het Smith gesê. “Die eerste ding wat hy sien wanneer hy wakker word, en die eerste ding wat hy sien wanneer hy gaan slaap, is Bailey.”

Toe Bailey gesteel is, het Lukas nie behoorlik geslaap of geëet nie. “Ek was so bekommerd. Dit sou baie moeilik gewees het om te verduidelik dat Bailey nie huis toe gaan kom nie.”

Smith het uit desperaatheid die polisie en ‘n plaaslike radiostasie in kennis gestel. Sy het ook plakkate oral opgesit en ‘n $200-beloning aangebied.

Die Peterborough Humane Society het die afgelope week ‘n oproep ontvang dat die verlore hond aan ‘n boom naby die vereniging vasgemaak is. “Hulle het my gebel en gesê hulle dink hulle het Bailey opgespoor,” het Smith bygevoeg.

Die 3-jarige Chihuahua-Pommere-mengsel is intussen met Lukas herenig. “Ons kan nie genoeg dankie sê vir almal nie,” het Smith gesê. Sy het bygevoeg dat hulle nie kwaad is vir die persoon wat Bailey gesteel het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.