Foto’s: Digte mis veroorsaak chaos op N4

Foto’s: ER24

Digte mis op die N4-snelweg het Vrydagoggend chaos veroorsaak en vermoedelik tot ʼn kettingbotsing gelei waarin ʼn bejaarde vrou dood is en 15 voertuie betrokke was.

Vanessa Jackson, ʼn woordvoerder van ER24, het aan Maroela Media gesê die ongeluk het omstreeks 07:30 op die snelweg naby Emalahleni (Witbank) plaasgevind.

“Alhoewel die oorsaak van die ongeluk steeds deur die polisie ondersoek moet word, wil dit voorkom of ʼn string voertuie in die digte mis skielik stadiger begin ry het omdat ʼn ligte vragmotor glo stil gaan staan het,” het Jackson gesê. ʼn Swaarvoertuig wat agter die string motors gery het, kon nie betyds rem aanslaan nie en het teen van die voertuie gebots, waarna die swaarvoertuig in aankomende verkeer uitgeswaai het. “Die bestuurder van die steenkoolvragmotor het daarna vermoedelik teen nog voertuie gebots, beheer oor die voertuig verloor en teen ʼn styl afdraende af gery,” het Jackson gesê.

Die botsing het veroorsaak dat die bestuurder in die kajuit van die voertuig vasgekeer is. Die vrag wat hy vervoer het, het om die kajuit gestort, en hom verder onder ʼn hoop steenkool vasgekeer. Nooddienswerkers moes eers van die steenkool verwyder voor die man behandel kon word.

“Dit het omstreeks 5 ure geneem om die man, wat kritieke beserings opgedoen het, uit die kajuit te sny. Hy is omstreeks 13:00 met ʼn helikopter na die Doctor George Mukhari-hospitaal in Pretoria geneem vir verdere behandeling,” het Jackson bygevoeg.

Vyf insittendes van die ander voertuie het verskeie beserings opgedoen en is met ambulanse na nabygeleë hospitale geneem. “Die bejaarde vrou se liggaam is in haar voertuig aangetref, sy was ongelukkig reeds dood toe paramedici by die toneel opgedaag het.”

Jackson sê deur die loop van die oggend was daar nog ʼn botsing sowat 500m verder van dié toneel, waarin vier voertuie betrokke was. “Sowat 500m van die tweede botsing was daar ook ʼn ongeluk waar ʼn bakkie en ʼn voertuig gebots het. Niemand is in die tweede ongeluk beseer nie, en een persoon het geringe beserings in die derde ongeluk opgedoen,” het sy gesê.

Die pad was in albei rigtings vir verkeer gesluit terwyl die toneel opgeruim is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.