“Dink aan Neil volgende keer as die maan vir jou glimlag, en gee vir hom ‘n oogknip”

Ruimtevaarder Neil Armstrong het Saterdag in die ouderdom van 82 gesterf.

Bob Jacobs, woordvoerder van NASA, sê Armstrong is in Cincinnati dood nadat hy vroeër in Augustus ‘n hartoperasie ondergaan het. “Die oorsaak van sy dood was komplikasies weens die kardiovaskulêre prosedures,” het Armstrong se gesin gesê.

Armstrong, wat die eerste persoon was om op 20 Julie 1969 ‘n tree op die maan te gee, het ‘n frase geuiter wat al regoor die wêreld aangehaal is: “Dit is een klein treetjie vir ‘n man; een groot sprong vir die mens” (That’s one small step for man; one giant leap for mankind).

Die swart-en-wit beeldmateriaal van die eerste maanlanding is deur ongeveer 600 miljoen mense wêreldwyd gekyk en het Armstrong as een van die helde van die 20ste eeu gevestig.j

Huldeblyke stroom in

Armstrong se mede-ruimtevaarder, Buzz Aldrin het gesê: “Ek weet miljoene ander mense treur saam met my oor die afsterwe van ‘n ware Amerikaanse held en die beste vlieënier wat ek ooit geken het.”

Sy gesin het in ‘n verklaring gesê: “Dink aan Neil volgende keer as die maan vir jou glimlag, en gee vir hom ‘n oogknip.”

“So lank as wat daar geskiedenisboeke is, so lank sal Neil Armstrong daarby ingesluit wees,” het Charles Bolden, administrateur van NASA, gesê.

Armstrong se biograaf, James R. Hansen, het van hom gesê: “hy was een van die bekendste mense op die planeet, tog verstaan bitter min mense hom.”

Neil Alden Armstrong is op 5 Augustus 1930 op sy oupa se plaas, Wapakoneta, Ohio gebore.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.