Dinokeng-renoster deur vragmotor doodgery

ʼn Renosterbul is vroeg Woensdagoggend deur ʼn vragmotor in die Dinokeng Wildreservaat, oos van Hammanskraal, doodgery, berig LookLocal.

Die voorval het ongeveer 5 km buite die wildreservaat se hek op die Rust de Winterpad plaasgevind. ʼn Afleweringsvoertuig wat kruideniersware by ʼn supermark in Seabatso moes aflewer het die dier omstreeks 05:45 getref. Die bestuurder, Azael Lebitso, het gesê: “Dit is die eerste keer dat ek dié pad ry. Ek het gesien dat ek ʼn wildreservaat binnery, en toe gehoor gegee aan die 60 km/h spoedgrens.” Volgens Lebitso het ʼn voertuig van voor af gekom met sy hoofligte aan. Hy het die vragmotor se ligte geflits om die persoon daarvan bewus te maak, maar die renoster het toe glo baie vinnig links vanuit die veld oor die pad gehardloop. Hy kon nie betyds rem nie en het die dier getref. Lebitso se knieë en voet het weens die impak seergekry en die vragmotor is sodanig beskadig dat dit nie verder kon ry nie.

LookLocal berig egter dat Johan van Aardt, ʼn inwoner van Rust de Winter wat elke oggend voor ses dié pad werk toe ry, gesê het die Lebitso “praat nonsens”. Hy het die ongeluk ongeveer 500 m voor hom sien gebeur en was die eerste verbyganger op die toneel. Te oordeel aan die remmerke van tussen 25 en 30 m elk, reken Van Aardt dat die trok teen ongeveer 110 km/h moes gery het. Die spoedgrens in die reservaat is glo 60 km/h maar word oor die algemeen deur besoekers ignoreer.

Etienne Toerien, voorsitter van die Dinokeng Wildreservaat en eienaar van Mongêna Lodge, het gesê dit was oorspronklik een van Mongêna se renosters. Hy skat die dier was omtrent ses jaar oud en dat dit sowat R300 000 sal kos om hom te vervang. Hulle sal wel hul prokureurs nader om te sien wat die kans is om die koste te verhaal. Volgens Toerien sal die renoster, nadat sy horings verwyder is, se karkas die veld in gesleep word vir die natuur om sy gang te gaan. Die horings sal aan natuurbewaring oorhandig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.