Direkteur van openbare vervolging van rassisme aangekla

Die nasionale direkteur van openbare vervolging, Menzi Simelane. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRR) het ʼn klag van rassisme by die menseregtekommissie teen Menzi Simelane, die nasionale direkteur van openbare vervolging, aanhangig gemaak.

Die SAIRR se adjunk uitvoerende hoof, Frans Cronje, sê in ʼn verklaring die klag spruit uit Simelane se uitlatings wat die naweek in die Sunday Times gepubliseer is. Cronje sê Simelane is oor misdaad met ʼn rassistiese motief of wat ʼn element daarvan bevat uitgevra. Simelane is aangehaal waar hy gesê het: “Dit is ook ʼn feit dat swart mense in sommige, indien nie in meeste van die gevalle nie, die slagoffers van dié misdade is. Dit is ook ʼn feit dat die oortreders meestal wit mans is. Ons howe is vol van sulke mense.” Simelane het onder andere gevra vir wetgewing rakende rassemisdade en beter polisiering van sosiale netwerke. Hy sê indien Suid-Afrika nie die soort van wetgewing het nie sal daar steeds voorvalle wees waar ras ‘n bepalende faktor speel. Simelane se uitlatings was in reaksie op die Facebook-foto wat wys hoe ‘n wit man met ‘n geweer oor die liggaam van ‘n swart seuntjie staan. Die seuntjie is egter lewendig en gesond en sy pa het gesê die foto was bedoel om ‘n grap te wees. Cronje sê die SAIRR beskou die uitlatings as rassisties van aard en meen dit kan rassehaat aanblaas en tot onregverdige diskriminasie teen wittes lei. Hy sê die SAIRR het die menseregtekommissie gevra om ondersoek na Simelane se uitlatings in te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ria Erasmus ·

Lewe die dwaas in ‘n bubble..?  Hy glo seker ook aan die tandemuis.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.