Dit gaan beter met Mandela, sê Zuma

pres. Jacob Zuma Foto: GCIS/SAPA

Oudpresident Nelson Mandela reageer goed op die behandeling wat hy ontvang, het president Jacob Zuma Woensdag tydens ʼn nasionale vergadering gesê.

“Ek is bly om te kan sê dat Madiba sedert vanoggend beter reageer op die behandeling wat hy ontvang,” het Zuma gesê toe hy ʼn debat by die vergadering oor die presidensie se begroting geopen het.

Zuma het gesê die regering is “baie bly met die vordering wat hy nou maak, ná ʼn paar baie moeilike dae”.

Zuma sê die regering waardeer al die boodskappe van ondersteuning en beterskap wat van regoor die wêreld vir Madiba instroom. “Dit is ʼn eer vir ons Suid-Afrikaners om Madiba met die internasionale gemeenskap te kan deel. Ons verstaan volkome en waardeer die internasionale belang oor dié wêreld-ikoon. Ons is trots om hom ons eie te noem.”

Zuma het Suid-Afrikaners, en die internasionale gemeenskap, gemaan om “aan te hou om Mandela en sy mediese span in hul gedagtes en gebede te dra”.

Intussen het Mandela vandag verskeie besoeke van familielede ontvang, waaronder sy vrou Graça Machel en kleinseuns. Sy oudste dogter, Zenani, wat Suid-Afrika se ambassadeur vir Argentinië is, het hom ook besoek. Sy het vandeesweek teruggevlieg na Suid-Afrika nadat haar pa in die hospitaal opgeneem is. Mandela se voormalige vrou, Winnie Madikizela-Mandela, het hom Dinsdag by die hospitaal besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.