Dit was ’n reuse fout – Zille oor wetswysigingskandaal

Helen Zille

Helen Zille

Die leier van die Demokratiese Alliansie (DA), Helen Zille, het die redes vir haar party se omstrede u-draai oor hul steun vir die wysigings aan die Wet op Gelyke Indiensneming Donderdag aan Kaapse Persklub verduidelik.

Die DA het eers onder die leiding van die party se parlementêre leier, Lindiwe Mazibuko vír die wysigings gestem. Indien dit ingestel sou word, sou die wysigings magte aan die minister verleen om regulasies uit te vaardig wat kan bepaal dat werkgewers die nasionale demografie moet gebruik; dit maak voorsiening vir groter boetes en die beskikbare vaardigheidspoel hoef nie meer in ag geneem te word by die stel van teikens nie.

Zille het verduidelik dat die Wet op Gelyke Indiensneming en die Wet op Breëbasis- Swart Ekonomiese bemagtiging (BSEB) op ’n rigiede rasgebaseerde kwotastelsel sou neerkom en dat daar geen verskoning vir die party sou wees as dit so ’n “Verwoerdian”-maatreël sou ondersteun nie. Sy het vroeër almal wat by dié omstrede “fout” betrokke was streng oor die vingers getik en van die amptenare wat ten nouste betrokke was, gaan vervang word.

Hoewel Zille vroeër die week ontken het dat daar spanning heers tussen haar en Mazibuko, het sy vandag geen doekies omgedraai nie en reguit aan die nuusagentskap, Sapa, gesê dat sy (Mazibuku) die saak “heeltemal verkeerd” hanteer het.

Zille het beklemtoon dat die uiteindelike stap om die twee omstrede wetswysigings te steun die gevolg van nie minder nie as sewe foute was en dat hul beleid oor regstellende aksie en bemagtiging reeds in Mei uitgeklaar was. Sy het hul advertensieborde wat tans in Gauteng gesien kan word aangehaal wat sê dat die DA bemagtiging steun wat werk skep, nie miljoenêrs nie.

Op ’n vraag of sy haar besluit om ná 2015 as leier van die party uit te tree ná die fiasko gaan heroorweeg het Zille gesê: “Sodra daar iemand anders is wat hierdie werk beter as ek kan doen, sal ek uittree en my elders vir die saak beywer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Frik Lotz ·

Hoe kan n party so n fout maak? Dis darem te dik vir n daalder! Nee wat,die DA kan nie vertrou word nie en hul verskonings is flou. Boonop steun hul swart ekonomiese bemagtiging ook. Stem liewer vir die VF Plus want minderhede kan op hul staatmaak. Die DA gaan nie minderhede se stemme kry nie en nog minder swart stemme. Dis tyd vir die DA om te groet.

Gerard ·

Dis ontstellend hoeveel van ons eie mense vir die DA stem. Volgens hulle is dit die enigste party wat sin maak. Hier is bewys dat hulle nie vertrou kan word nie. Kom ons stem vir ons eie mense. Stem vir die VF+

Kaspaas Breekwater ·

En hier wys die DA (Desperate Alliance) hulle ware twee-gat jakkals kleure. Geen verskil tussen die DA en die ANC nie.

Dompelpomp ·

Of die DA hierdie wetgewing ondersteun of nie is eintlik irrelevant (behalwe dat hulle hulle ware kleure wys) Die ANC gaan dit in elk geval deur stoomroller. Ek twyfel of die DA stem dit in elk geval sou stop.

Erich Goosen ·

Met die opset in die DA waar die leier in die Wes-Kaapse Provinsiale regering sit en ‘n ander leier in die Nasionale Raad, is dit te wagte dat sulke wankommunikasie kan gebeur. Ek was nog altyd ‘n uitgesproke kritikus van die feit dat Me Zille nie in die parlement sitting het nie. Dit is die enjinkamer waar dinge gebeur en waar sy behoort te wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.