Suid-Afrikaners het in 2012 die naam “Whitney Houston” die meeste op Google ingetik.
Julie Taylor, kommunikasiebestuurder vir Google in Afrika suid van die Sahara, het gesê mense was ook geïnteresseerd in die lugredery Velvet Sky wat vroeër die jaar bankrot gespeel het. Sy sê ‘n studie is gedoen om uit te vind wat Suid-Afrikaners se Google-gewoontes is en die studie het veral gefokus op gewilde soekterme oor ‘n 12 maande-periode, berig Beeld.
Taylor sê abstrakte soekterme was ook gewild, en die vraag “What is love?” (wat is liefde?) is as die gewildste soekterm in die “What is…?”-kategorie aangewys. Ander gewilde soektogte in dieselfde kategorie is “What is HIV?” (wat is HIV?), “What is poverty?” (wat is armoede), “What is cancer?” (wat is kanker) en “What is technology?” (wat is tegnologie?).
Oor die afgelope 12 maande was Caster Semenya, Olympics 2012, Hurricane Sandy, How to kiss? (hoe om te soen?) en How to study? (hoe om te studeer?) ook gewild.
“Ons het ‘n toegewyde span ingenieurs wat jaarliks meer as 500 verbeterings aan ons webwerf aanbring om dit so gebruikersvriendelik as moontlik te maak,” het Taylor gesê.
-SAPA