DKD gaan Waterkloof-hofbevel teenstaan

Reinach Tiedt. Foto: SAPA

Gert van Schalkwyk. Foto: SAPA

Die departement van korrektiewe dienste het Dinsdag gesê dat hy aansoek sal doen om hersiening van die hofbevel wat twee lede van die Waterkloof-vier se vonnis in korrektiewe toesig omskep het.

Die adjunkkommissaris van korrektiewe dienste, Zacharia Modise, sê die aansoek om hersiening sal ingedien word binne die vereiste 14 dae na die hofbevel. Volgens berigte sal daar Woensdagoggend ʼn formele aankondiging hieroor gemaak word tydens ʼn mediakonferensie. Dit beteken dat ʼn ander hof die vorige hofuitspraak kan verwerp en Van Schalkwyk en Tiedt moontlik terug moet gaan tronk toe. Gert van Schalkwyk en Reinach Tiedt moes op 15 Desember vrygelaat word maar die departement het geweier. Die Pretoriase hooggeregshof het op 16 Desember gelas dat die twee mans onmiddellik vrygelaat word. Die departement het egter weer geweier. Van Schalkwyk en Tiedt is verlede Maandag onder streng voorwaardes vrygelaat. Van Schalkwyk, Tiedt, Frikkie du Preez en Christoff Bekker het in 2008 tronkstraf van 12 jaar begin uitdien na hulle vroeër skuldig bevind is aan die moord op ʼn hawelose man. Die voorval het in 2001 plaasgevind toe die vier mans nog op skool was. Du Preez en Bekker word in Pretoria Sentraal gevangenis aangehou.

Modise sê Du Preez en Bekker het nog nie aansoek gedoen om hulle vonnisse te omskep nie. Hy sê departement sal só aansoek teenstaan. Van Schalkwyk en Tiedt se regsverteenwoordiger, Jenny Brewis, het verlede week gesê dat hulle die twee se vrylating op korrektiewe toesig as finaal beskou en dat daar geen gronde vir appèl is nie. “Dit was nie ek wat die besluit geneem het nie. Wil hulle teen hulself appelleer? Hoe appelleer jy teen jouself?” het Brewis gevra. Brewis sê volgens haar is die saak afgehandel. Sy sê die paroolraad se besluit en die bevestiging daarvan deur die howe was nie as gevolg van enige aksie deur haar kliënte nie maar van die departement self.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.