DKD in sop oor Afrikaans

Die departement van korrektiewe dienste (DKD) se weiering om ‘n Afrikaanssprekende werknemer se personeelevaluering te doen omdat dit in Afrikaans opgestel is, het hom nou ‘n klag by die Menseregtekommissie op die hals gehaal.

Die FW de Klerkstigting meen die DKD tree ongrondwetlik op deur te weier om GWS Heyns se evaluering te doen, deur te verklaar dat Engels die DKD se taal van “besigheid” is. Die Stigting meen ingevolge die grondwet moet die DKD in elke provinsie minstens twee amptelike tale inspan, en dat dit in die Wes-Kaap volgens demografie Afrikaans en Engels moet wees.

“Die Stigting is van mening dat die reg op die gebruik van jou amptelike taal – en die verwagting dat dit billik en met gelyke aansien behandel sal word – ’n integrale deel van die grondliggende waardes van menswaardigheid en gelykheid is,” lui die verklaring.

Die klag is reeds by die Menseregtekoimissie ingedien.

Die DKD is ook in ‘n hofstryd teen Solidariteit gewikkel. Solidariteit verteenwoordig nege bruin beamptes en een wit beampte wat weens die DKD se beleid, dat die nasionale demografie ook in die Wes-Kaap moet geld wat bevordering betref, erg onder rassediskriminasie deurloop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.