DKD trek besware teen vakbond se regstellendeaksiesaak terug

Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit.

Die departement van korrektiewe dienste (DKD) het Vrydagoggend in die arbeidshof in Kaapstad al hulle tegniese besware teen Solidariteit se hofsaak teen hulle omstrede regstellendeaksieplan teruggetrek. Die regter het gevolglik beveel dat Solidariteit se hofsaak kan voortgaan.

Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, sê die vakbond is verheug oor die regter se bevel. “Hierdie is ʼn belangrike regspunt waaroor Suid-Afrikaners regsekerheid moet kry. Die DKD sal nou hulle argument ten gunste van die regstellendeaksieplan in die hof moet voorhou. Dit is goeie nuus vir alle Suid-Afrikaners, aangesien daar binnekort regsekerheid sal wees oor of die nasionale rassedemografie orals in Suid-Afrika toegepas mag word.”

Die DKD wou poog om Solidariteit se regstellendeaksiesaak teen hulle op ’n tegniese punt te keer deur, onder meer, aan te voer dat nóg partye tot die saak gevoeg moes word en dat die arbeidshof in Kaapstad nie die regsbevoegdheid het om die saak aan te hoor nie.

Solidariteit se saak teen die DKD se omstrede regstellendeaksieplan gaan van 22 April tot 6 Mei in die arbeidshof in Kaapstad aangehoor word. Solidariteit is van mening dat die DKD se blatante beleid van absolute verteenwoordiging onbillik, irrasioneel en onwettig is. Volgens Solidariteit gaan dit die omvangrykste regstellendeaksiehofsaak nóg in Suid-Afrika wees. “Die feit dat die saak vir tien dae op die hofrol geplaas is, wys hoe omvangryk die saak gaan wees,” het Hermann gesê.

Solidariteit gaan vra vir ’n beslissing dat sy lede bevorder word en dat die regstellendeaksieplan van die DKD in sy geheel onwettig verklaar word. Dié plan bepaal dat die streke se regstellendeaksieplanne in ooreenstemming met die nasionale plan moet wees. Die nasionale demografie word dus in wese op die Wes-Kaap afgedwing. Die hofuitspraak sal nie net implikasies vir die DKD inhou nie, maar vir alle regstellendeaksieplanne regdeur die staatsdiens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.