DKD wil poog om vakbond se regstelsaak te keer

Die departement van korrektiewe dienste (DKD) gaan Vrydag poog om Solidariteit se regstellendeaksiesaak teen hulle, op ’n tegniese punt te keer.

Die DKD wil aanvoer dat nóg partye tot die saak gevoeg moes word en dat die arbeidshof in Kaapstad nie die regsbevoegdheid het om die saak aan te hoor nie. Volgens Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, kan daar nie toegelaat word dat ’n belangrike beginsel ongetoets bly weens beweerde tegniese redes nie.

“Die DKD kan nie toegelaat word om ’n onregmatige praktyk voort te sit weens ’n tegniese punt nie. Suid-Afrikaners verdien om sekerheid te kry oor dié regsvraag en die vakbond sal alles in sy vermoë doen om die hofsaak so spoedig moontlik aangehoor te kry. Ons sal dus die DKD se tegniese aansoek Vrydag opponeer.”

Die arbeidshof in Kaapstad het vroeër bekendgemaak dat Solidariteit se hofsaak teen die DKD in die Wes-Kaap van 22 April tot 6 Mei daar aangehoor gaan word. Solidariteit is van mening dat die DKD se blatante beleid van absolute verteenwoordiging onbillik, irrasioneel en onwettig is. Volgens Solidariteit gaan dit die omvangrykste regstellendeaksiehofsaak nóg in Suid-Afrika wees. “Die feit dat die saak vir tien dae op die hofrol geplaas is, wys hoe omvangryk die saak gaan wees,” het Hermann gesê.

Solidariteit gaan vra vir ’n beslissing dat sy lede bevorder word en dat die regstellendeaksieplan van die DKD in sy geheel onwettig verklaar word. Dié plan bepaal dat die streke se regstellendeaksieplanne in ooreenstemming met die nasionale plan moet wees. Die nasionale demografie word dus in wese op die Wes-Kaap afgedwing. Die hofuitspraak sal nie net implikasies vir die DKD inhou nie, maar vir alle regstellendeaksieplanne regdeur die staatsdiens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.