DNS bevestig oorskot is die van vermiste polisievrou

Rasuge se oorskot word by die huis in Themba opgegrawe. Die foto is deur @barrybateman op Twitter gelaai.

DNS-toetse het bevestig dat die menslike oorskot wat verlede week by ʼn huis in Temba naby Hammanskraal, noord van Pretoria gevind is, dié van ʼn polisievrou is wat in 2004 vermis geraak het.

ʼn Polisiewoordvoerder, lt. kol Katlego Mogale, sê die DNS-toetse het bewys die oorskot is die van konst. Francis Rasuge. Konstruksiewerkers het Dinsdag op die oorskot afgekom terwyl hulle besig was om ʼn fondasie te grou by die huis van Rasuge se vriend William Nkuna. Hy is in November 2005 lewenslank tronkstraf opgelê vir die moord op Rasuge. Sy het in Augustus 2004 vermis geraak en daar is aangeneem sy is dood, hoewel haar oorskot nooit gekry is nie. Sy is die laaste keer lewend gesien toe Nkuna haar by ’n haarsalon in Temba opgelaai het.

In November 2005 is daar berig dat Rasuge se oorskot moontlik gevind is nadat ʼn veiligheidswag glo aan die polisie erken het dat Nkuna hom betaal het om Rasuge se lyk te begrawe. Dié oorskot wat by die Kgabalatsane-begraafplaas in Ga-Rankuwa gevind is, was egter die van ʼn bejaarde vrou. In Mei 2007 het die polisie met snuffelhonde deur Nkuna se motorhuis gestuur, maar daar was geen teken dat haar lyk daar begrawe is nie. Rasuge was 27 jaar oud toe sy vermis geraak het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.