Dobbelaar se boerpot weerhou

‘n Man van Johannesburg gaan die Nasionale Dobbelraad dagvaar nadat hulle sy boerpot glo weerhou het.

“Enige vorm van ongelisensieerde internet-dobbel in Suid-Afrika word verbied en is ‘n kriminele oortreding,” het Baby Tyawa, hoof uitvoerende beampte van die Nasionale Dobbelraad, gesê. Hy sê die raad het ‘n eisbrief van die dobbelaar se prokureurs ontvang, maar dat dit onwaarskynlik is dat hy sy R40 000-boerpot sal ontvang, berig die Saturday Star.

Die man het glo gewen nadat hy R20 000 op ‘n Britse dobbelwebwerf gebie het. Tyawa sê die geld is in ‘n trustrekening geplaas. Die rekening, wat deur die Nasionale Tesourie beheer word, het nagenoeg R3.5 miljoen wat hulle van ander onwettige aanlyn-dobbelaars weerhou. Die oorgrote meerderheid van dié dobbelaars is minderjarig.

Tyawa waarsku dat aanlyn-dobbelaars met R10 000 beboet kan word of selfs tot tronkstraf gevonnis kan word. Hy sê talle Suid-Afrikaners is nie daarvan bewus dat dit onwettig is nie. Die Nasionale Dobbelraad werk saam met alle groot banke en die Verenigde Koninkrykse Dobbelkommissie om Suid-Afrikaners te monitor wat op die internet dobbel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.